100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Plaaslike sekuriteitsmaatskappye werk saam teen rooftogte op N4

Written by on June 1, 2021

Die polisie en sekerheidsmaatskappye het Vrydagaand patrollies met hoë sigbaarheid op die N4 uitgevoer.
Dít na ‘n vlaag voorvalle waar motoriste se bande beskadig word om hulle te dwing om te stop voor hulle beroof word.
Hennie Bekker van AfriForum sê mense van Malalane tot Middelburg het deelgeneem en geen voorvalle is, tot sy kennis, aangemeld nie.
Hy sê hoewel dit ‘n groter probleem is in Gauteng, word die area tussen Belfast en Middelburg veral geraak in Mpumalanga.

AfriForum se lede alleen kon sowat 50 voertuie bymekaar kry om deel te neem.
“Dit was om sigbaarheid te verhoog om voorvalle te probeer keer,” sê Bekker.

Hy skryf dit toe aan sommige bendes se sukses, wat ander aangespoor het om dieselfde te doen. Dit versprei ook na ander areas.
Die DA het ‘n beroep gedoen op LUR Vusi Shongwe om in te gryp in die vlaag misdaad.
Volgens die polisie is 24 gevalle tussen 1 April en 18 Mei aangemeld.
Trudie Grovè-Morgan sê hoewel die N4 en N12 nasionale paaie is, inwoners van die provinsie die meeste daardeur geraak word.
Die paaie wat geraak word is meestal die N4 by Middelburg, Bethal, Kendall en Belfast; die N12 by Ogies, Delmas en tussen Bronkhorstspruit en Witbank; die R40 rondom Marite en die omgewing van Calcutta en Matsikitsane in Acornhoek.

Bekker sê die voorwerpe wat gebruik word verskil wyd van mekaar, maar het dieselfde doel voor oë. Gevalle is ook aangemeld waar mense, ondanks hul pap bande, aanhou ry het, agtervolg is, en steeds beroof is.
Mpumalanga se waarnemende polisiekomissaris, maj. gen. Thulani Phahla, het motoriste aangeraai om baie versigtig op dié paaie te wees, veral snags – en om eerder nie in die aand te bestuur nie.
Volgens Bekker sal hulle beslis weer sulke operasies uitvoer.


×