100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Ontvoerde baba na 20 jaar gevind na boetie foto op sosiale media sien

Written by on December 7, 2021

‘n Jong man het verlede week gehelp om sy sussie, wat voor sy geboorte ontvoer is, na meer as 20 jaar op te spoor.
Die pasgebore baba is in Maart 2001 in Ermelo ontvoer, terwyl sy saam met haar ma, toe 16 jaar oud, en tannie op pad was huis toe (in Breyten) van Ermelo-hospitaal af.
Polisiewoordvoerder, brig. Selvy Mohlala, verduidelik ‘n onbekende vrou het aangebied om die baba vas te hou terwyl die tante winkel toe is en die ma van pyn en lighoofdigheid gekla het.

Die vrou het met die baba verdwyn. ‘n Polisiesaak is geopen.
Op 29 November vanjaar het die eerste deurbraak gekom: die ontvoerde baba se jonger boetie, nou 19 jaar oud, het ‘n foto van sy sussie op sosiale media gesien, en agterdogtig geraak omdat sy presies lyk soos hul ma as tiener.
Hy het die polisie gekontak, en DNS-toetse het bevestig dat sy die ontvoerde baba is.
Die verdagte, ‘n 50-jarige vrou, is aangekeer. Sy kan nie geïdentifiseer word nie, om die slagoffer se identiteit te beskerm. Sy het op 30 November in die Ermelo-landdroshof verskyn en is borgtog van R1 000 toegestaan. Die saak is uitgestel tot 18 Januarie.
Die 20-jarige vrou is na ‘n plek van veiligheid geneem en ontvang berading en sal hopelik binnekort met haar biologiese gesin herenig word, aldus Mohlala.


×