100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Omstander doodgeskiet tydens transitoroof

Written by on February 4, 2022

‘n Omstander is gister doodgeskiet deur vermeende rowers tydens ‘n skietgeveg met die polisie in Elukwatini.
Volgens die polisie het ‘n groep verdagtes ‘n kontantwa wat by ‘n kitsbank geparkeer was om geld op te tel, om ongeveer 08:00 aangeval en met plofstof oopgeblaas.

Hulle het met kontant gevlug. Terwyl wetstoepassers hulle agterna gesit het, het hulle op die polisie losgetrek. ‘n Skietgeveg het ontstaan en ‘n omstander is doodgeskiet.
Die verdagtes is gevolg tot by ‘n gastehuis, waar een met ‘n ander voertuig gevlug het.
Verskeie verdagtes kon suksesvol wegkom. Drie is daarna aangekeer vir moord, poging tot moord en sakeroof.
Die een is deur die polisie gewond, en hospitaal toe geneem vir behandeling.

Die twee wat nie gewond is nie, onderskeidelik 23 en 26 jaar oud, het twee gewere en ‘n pistool wat versteek was in die dak aan die polisie uitgewys. ‘n Totaal van 116 rondtes ammunisie is gevind, asook kontant, plofstof en ander toestelle.
Volgens polisiewoordvoerder, brig. Selvy Mohlala, word hulle gekoppel aan ander sake in Ermelo en KwaMhlanga.
‘n Rower is gister ook tot ‘n addisionale 61 jaar agter tralies gevonnis in die Graskop-hof.
Lehlogonolo Tleketle is skuldig bevind aan gewapende roof, poging tot moord, onwettige besit van vuurwapens en opsetlike saakbeskadiging.
Hy was die bestuurder van ‘n Mercedes wat gebruik is om met ‘n kontantwa te bots gedurende ‘n roof in Sabie in Julie 2017. Sowat R17 miljoen is destyds gesteel tydens die aanval, wat opspraak gewek het dat dit deur 17 gewapende rowers uitgedien is.
Volgens die polisie dien Tleketle reeds ‘n 30-jaar vonnis uit vir ‘n transitoroof wat in Mei 2004 in Pretoria-Wes uitgevoer is. Die 61 jaar sal by daardie 30 getel word.


×