100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Oefen saam met Nellies Active

Written by on July 10, 2020

Die Nellies Active beweging wil die dorp weer aan die oefen kry.
Die reeks virtuele kompetisies het verlede naweek afgeskop.
DP Badenhorst, Hoërskool Nelspruit se hoof van sport, sê die kinders mag nie skolesport beoefen nie.
Hulle wil hulle weer aan die gang kry en almal betrokke kry vir die voordele wat oefening inhou.
Hierdie naweek is die uitdaging ‘n spankompetisie. Jy kan draf, stap, fietsry of kragoefeninge doen.

“Dit is oop vir enigiemand,” sê Badenhorst. “Nellies, ouers, enigiemand was lus is om deel te neem.”
Hy voeg by dat die Covid-19-pandemie ‘n groot uitdaging is, maar dat oefening ‘n mens goed doen.
“Dit is slegte tye waarin ons is, maar die oomblik wat jy begin oefen voel jy beter oor jouself.”
Dit is vir die leerlinge met ‘n passie vir wintersport ‘n groot slag dat skolesport afgelas is. Hy hoop hierdie kompetisies kry hulle weer aan die oefen.
Almal is ook nie sportmanne nie, en daarom het hulle stap ingebring.
Verlede naweek se eerste virtuele uitdaging was ‘n groot sukses met 156 deelnemers wat altesaam 1 235 km gedraf en gestap het.
Die NHS-leerders het loshande die meeste kilometres (376 km) gedraf. Kort op hul hakke was die personeel met 283 km.
Die ouers het nie net die leerlinge ondersteun nie, maar ook deelgeneem en altesaam 195 km afgelê.
Oud-Nellies, laerskoolleerders en ondersteuners – waarvan die oudste deelnemer 71 jaar oud is – het saam 371 km kafgedraf.
Badenhorst sê dit was vir sommige deelnemers die eerste keer sedert die inperking begin het, dat hulle weer geoefen het.

So werk dit
Hierdie naweek se virtuele spanuitdaging kan deelnemers enige tyd of plek tot Sondag om 18:00 aanpak.
Kies bloot ‘n aktiwiteit, kry ‘n span en vul jul span se tyd na die resies in op Google Forms.
In die fietsry moet vier spanlede elk ‘n spesifieke afstand aflê. Die kraguitdaging word per video gedoen.
Badenhorst sluit af: “Kom ons kyk na die groter prentjie en kyk vorentoe.”
Besoek die skool se Facebook-blad vir meer.

 


×