100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Nuwe president vir sakekamer ingehuldig

Written by on April 22, 2021

Die Kruger-Laeveld-sakekamer, oftewel die KLCBT, se nuwe president is vandag amptelik ingehuldig. Sandra Jacobs sal vir die volgende twee jaar dié amp beklee.
Die seremonie is by Emnotweni Arena gehou. Verskeie voormalige presidente het dit meegemaak.
Een van die sakekamer se belangrikste funksies is om die area te bemark.
Uitgaande president, Oupa Pilane, wat aanbly as voorsitter van Kruger-Laeveld-toerisme (KLT) by die organisasie, sê plaaslike toerisme moet meer op besoekers uit Afrika fokus om die pandemie te oorleef.
Hy voer aan dat die belangrikste areas vanwaar die Laeveld se besoekers kom Brittanje, die VSA en Duitsland is, en dat hulle in die voorsienbare toekoms nie die land in groot getalle sal besoek nie.
Internasionale reisigers van net hierdie drie kern-areas het met sowat 90% verminder teenoor die aantal besoekers voor die Covid-19-pandemie.
“Ons moet nuut oor ons herstel dink,” sê hy. “Ons bemark nie ons toerismeprodukte genoegsaam aan Afrika-lande nie, en dit is noodsaaklik dat ons na daardie mark kyk.”
Hy het bygevoeg dat die KLCBT se kommunikasiekanale met die regering oor die afgelope jare baie verbeter het, en bestuur van die MTPA het onder die eregaste getel.
Pilane het bygevoeg dat ‘n groot kopseer die provinsie se paaie bly, soos dit al die afgelope 15 jaar is.
“Ons gaan dit nou met die nasionale regering opneem,” het hy beloof.
Uitvoerende hoof, Linda Grimbeek, het Pilane se sentiment oor Afrika gedeel. Sy het Jacobs gewaarsku dat haar nuwe amp ‘n voltydse werk is.
Jacobs het ‘n belofte afgelê en gesê sy besef watter groot verantwoordelikheid dit is.

“Ek het geen twyfel dat hierdie organisasie ‘n groot bydrae sal lewer aan die herstel van die omgewing uit Covid-19 nie,” sê sy.
“Dit sal my doelwit wees om te handhaaf wat hulle reeds in die verlede gedoen het, en om my beste te gee om in diens te staan van die area.”


×