100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Nelspruit Mediclinic se intensiewe- en hoësorg steeds onder Covid-druk

Written by on July 23, 2021

Nelspruit Mediclinic sê hulle ervaar tans ‘n effense afname in die vraag na hospitaalbeddens weens Covid-19, maar hul intensiewesorg- en hoësorg-eenhede is steeds onder druk.
Volgens dr. Gerrit de Villiers, die hoof kliniese beampte by Mediclinic Suider-Afrika, benodig nie alle Covid-pasiënte intensiewesorg of meganiese ventilasie nie, en word baie van hulle suksesvol in ander sale behandel.
By Nelspruit Mediclinic se noodgevalle word dringende gevalle gestabiliseer en opgeneem of na ander fasiliteite oorgeplaas.
Die Mediclinic-groep het mense aangemoedig om hul eie gesondheid op te pas deur hul gedrag aan te pas om die risiko van infeksie te verminder.
“Wanneer die virus stadiger versprei, sal dit druk verminder op fasiliteite wat ernstige pasiënte behandel en gee dit meer tyd vir meer mense om inentings te ontvang.”
Hulle het almal wat kwalifiseer ook aangemoedig om die inenting teen die virus te ontvang. Net meer as 2 miljoen Suid-Afrikaners is tot dusver volledig ingeënt.
“Inenting beskerm mense daarteen om ernstig siek te raak weens die virus, en verlaag die risiko van sterftes.
Die afgelope 24 uur is 14 858 nuwe positiewe gevalle landwyd aangemeld. 14 441 inentings is in dié tyd in Mpumalanga toegedien. ‘n Totaal van 895 nuwe gevalle is in die provinsie aangeteken, en sewe sterftes.
Mpumalanga het 9 096 aktiewe gevalle. In die Laeveld is daar 2 307 in Mbombela, 532 Bosbokrand, 413 in Thaba Chweu en 408 in Nkomazi.
‘n Totaal van 833 mense word tans in Mpumalanga in die hospitaal vir die virus behandel. Van hulle is 109 in hoësorg en 74 in intensiewesorg.
Enigiemand ouer as 35 jaar kan die inenting ontvang. Om te registreer, besoek https://vaccine.enroll.health.gov.za/#/ of stuur ‘n WhatsApp met die woord “Register” na 0600-123-456 of stuur ‘n SMS na *134*832*jou ID-nommer#.


×