100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Nege nasieners toets sover positief vir koronavirus in Mpumalanga

Written by on January 12, 2021

Tot dusver het nege mense wat betrokke is by die nasien van matriekvraestelle in Mpumalanga positief getoets vir die koronavirus.
In totaal is nagenoeg 4 869 mense in die provinsie betrokke by die merk van die 2020 eindeksamen. Dit het verlede week afgeskop. Dit sluit in moderators, assistente, administratiewe personeel en sentrumbestuurders.
Die LUR vir onderwys, Bonakele Majuba het vanoggend by Steve Tshwete-kosskool en Hoërskool Middelburg merksentrums in die hoëveld besoek afgelê.
Hy sê die mense wat positief getoets het, is huis toe gestuur en van die mense met wie hulle in kontak was, is in kwarantyn geplaas. Net twee nasieners is vervang, buiten die wat vooraf onttrek het weens onderliggende siektes wat hulle meer kwesbaar maak vir die uitwerking van Covid-19.
Hy kon nie spesifieke getalle noem nie, maar sê dit is veel minder as in ander provinsies.

Volgens Majuba verloop die merkery verder sonder voorval.
“Ons dink hulle bestuur die nasiensentrums professioneel en ons is beïndruk. Alle Covid19-protokol word gevolg om almal se veiligheid te verseker.
“Daar is verpleegsters in alle merksentrums, wat verseker dat die wat positief toets na omgesien word, en die met wie hulle in kontak was.”
Die provinsie het die merksentrums vanjaar van 16 na 19 vermeerder. Elke persoon ondergaan ook daagliks met hul aankoms by die lokaal siftingstoetse vir die nuwe koronavirus.
Verlede jaar se matriekeksamen was die grootste tot nog toe. In Mpumalanga het 93 899 matrikulante dit afgelê na die Junie-eksamen weens die Covid-19-pandemie gekanselleer is.
“Elke poging word aangewend om te verseker dat nabye kontak tussen die personeel vermy kan word,” sê die departement se woordvoerder, Jasper Zwane.
Die nasien sal op 22 Januarie ten einde loop en leerlinge behoort hul uitslae op 23 Februarie te ontvang.
Die skole open voorlopig ook op 27 Januarie, hoewel pres. Cyril Ramaphosa tydens sy toespraak Maandagaand aangedui het dat dit onder hernude oorweging is weens die vlaag tweede golf infeksies wat die land se hospitale tans onder geweldige druk plaas.
Majuba sê Mpumalanga is reg daarvoor.
“Dit sal nie die eerste keer wees wat ons heropen nie, en hierdie keer is ons beter voorbereid.
“Noodsaaklikhede is bestel en van dit is reeds gelewer. Teen die tyd wat ons heropen dink ek sal ons volledig gereed wees.”



×