100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

MTPA hersien tariewe om toerisme te bevorder

Written by on November 6, 2020

Die Mpumalanga Toerisme- en Parke-agentskap (MTPA) sal vanjaar nie al hul pryse verhoog nie.
Hulle het dit vanjaar hersien, om dit bekostigbaar te hou vir plaaslike reisigers.
Die agentskap het Donderdag aangekondig dat plaaslike en internasionale besoekers voortaan nie dieselfde pryse sal betaal nie.
“Die nuwe tariewe vir die 2020/21 finansiële jaar sal grootendeels onveranderd bly om ons besoekers teen die impak van die Covid-19-pandemie op die ekonomie en op hulle persoonlik, te beskerm,” sê die agentskap in ‘n verklaring.
Verhoogde tariewe word jaarliks op 1 Desember ingestel.
Volgens die MTPA se woordvoerder, Kholofelo Nkambule, hoop hulle om daarmee die negatiewe uitwerking wat die Covid-19-pandemie op toerisme het, teen te werk.

Johannes Nobunga, uitvoerende beampte van die MTPA, sê die pandemie het ‘n groot impak op die toerismebedryf gehad.
Verskeie lande, soos die VSA en Brittanje, asook lande in Europa, se besoekers is van die belangrikste vir Mpumalanga se toerisme. Hulle word egter weens die pandemie nie toegelaat om Suid-Afrika te besoek nie.
Die bedryf is dus afhanklik van plaaslike besoekers om te oorleef.
“Dit sou nie volhoubaar wees om vanjaar alle tariewe te verhoog nie,” aldus Nobunga.
“As die MTPA moet ons, ons eie inkomste genereer. Dit is daarom belangrik om te let dat ons algemene inkomste gebruik sal word vir die voortdurende opgradering van infrastruktuur by ons reservate om besoekers die beste moontlike ervaring en waarde vir geld te bied,” voeg hy by.
Die MTPA beplan verder om eersdaags ook nuwe aktiwiteite by verskillende natuurreservate bekend te stel.
Dit is bedoel om meer besoekers te lok. Dit sluit in, onder meer, perdry en bergfietsry by Songimvelo-natuurreservaat.
Sien die nuwe tariewe wat vanaf 1 Desember geld, by mpumalanga.com of kontak die MTPA se besprekingskantoor by 013-759-5432 of [email protected].


×