100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mpumalanga-boer aangewys as TLU SA se Jongboer van die jaar

Written by on November 24, 2020

Danie Bester van Balfour is gisteraand aangewys as TLU SA se Jongboer vir 2020.
Dié 35-jarige pa van twee boer reeds die afgelope 12 jaar saam met sy pa op die plaas Rietbult, waar hy mielies en sojaboontjies verbou, terwyl sy pa met beeste boer.
Henry Geldenhuys, president van TLU SA, sê hulle is beïndruk deur Bester se gebruik van tegnologie, internasionale skakeling en navorsing oor soja.

Geldenhuys voeg by dat die doel van die kompetisie is om jong boere aan te moedig om meer betrokke te raak by landbou. “Die toekoms is in hul hande,” sê hy.
“(Bester) is voorwaar ‘n boer wat nie net aanpas by die hulpbronne tot sy beskikking nie, maar ook die hulpbronne uitbrei en verbeter. Dit is presies die tipe vindingrykheid waarna ons soek onder ons jong boere. Hy het ‘n blink toekoms voor hom.”
As wenner van die jaarlikse kompetisie ontvang hy ‘n oorsese reis na die Manitou fabriek in Frankryk, asook R35 000 kontant.
Bester het na skool aan die Potchefstroomse Landboukollege studeer. TLU SA sê dat hy, soos die meeste kinders wat op ‘n plaas grootgeword het, boer al sedert hy ‘n klein seuntjie was.
CT van der Merwe (35) van Dendron in Limpopo is as die naaswenner aangewys. Hy boer die afgelope 13 jaar op Al3 Boerdery met aartappels, botterskorsies, uie, beeste en het onlangs ook dragon fruit by hul produkte gevoeg.
Janis Terblanche (32) van Marble Hall in Limpopo boer al vir tien jaar. Hy het die Janis Terblanche Boerdery ses jaar gelede gekoop en boer voltyds met druiwe. Hy was derde.
“Ons is tevrede dat die toekoms van landbou in bekwame hande lê,” sluit Geldenhuys af.


×