100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Man met panga aangeval op plaas buite Witrivier

Written by on May 20, 2021

‘n Man sterk aan in die hospitaal na hy laat gisteraand net buite Witrivier in sy huis aangeval is.
Die man, in sy vroeë 60’s, woon op The Ranch. Hy het glo beweging om sy perseel opgemerk en toe hy die deur oopmaak om ondersoek in te stel, het drie mans hom oorval.
Hulle het hom teen die vloer platgedruk en met ‘n panga gekap teen sy arm, maag en kop. Hulle het te voet gevlug met vier selfone.
‘n Boer van Standerton wat sedert Maart vermis word, se liggaam is die week in die Vrystaat gevind.
Twee verdagtes is Dinsdag in verband met die 54-jarige Themba Isaac Vilakazi se verdwyning in Standerton aangekeer.
Volgens die polisie was een van die mans glo in besit van sy eiendom. Die ander het die polisie na Vilakazi se oorskot gelei in ‘n donga naby Vrede.
Die polisiewoordvoerder in die provinsie, brig. Leonard Hlathi, sê Vilakazi het op 25 Maart sy gesin ingelig dat hy op pad was na die Standerton-polisiestasie om iemand daar te ontmoet, wat hom vroeër gebel het en homself as ‘n polisielid voorgestel het. Hy is nie weer gesien nie.
Vilakazi se Toyota bakkie met registrasienommer KTC 469 MP word nog gesoek.
Die verdagtes sal na verwagting vandag in die Standerton-hof verskyn.
Hlathi sê verder daar is nog geen verdagtes aangekeer in verband met die moord op Hennie Moldenhauer (58) Sondag op sy plaas naby Amersfoort nie.
Lees die vorige berig hier: Mpumalanga Landbou vra dat wetstoepassers boer se moordenaars aankeer
Enigiemand met inligting is gevra om die ondersoekbeampte, speurkonstabel Nomndeni Madonsela, te kontak by 071-203-1458.


×