100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Man aangekeer wat brand stig in ANC kantoor

Written by on March 17, 2022

Die man wat na bewering vanoggend rondom 10:00 ‘n brand begin het in January “Che” Mashilela-huis, die ANC se provinsiale hoofkantoor, in Nelspruit, is vanmiddag in Masoyi aangekeer.

Polisiewoordvoerder, brig. Selvy Mohlala, sê die 60-jarige verdagte het die kantore besoek met klagtes dat sy griewe nie aandag kry nie.

Hy het aangedring om met die skakelbeampte te praat, wat nie beskikbaar was nie. Die man het kwaad geword en petrol uit ‘n 2 liter bottel in sy sak gehaal, op die kantoorvloer gegooi en dit aan die brand gesteek.
Mohlala sê hy het ook petrol op van die werknemers in die kantoor gegooi. Hy het daarna uitgestap.
Almal anders kon die gebou ontruim en niemand is beseer nie. Ooggetuies wou nie op die toneel met die media praat nie.

Mbombela brandweerhoof, Petrus Mthiyane, sê die brandweer was vinnig op die toneel en kon die brand gou blus.
Drie vertrekke is beskadig. Mohlala sê die omvang van die skade is nog nie bepaal nie.
Die ANC se provinsiale leierskap verkiesingskonferensie is geskeduleer om op 1 April te begin.


×