100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Lydenburgpaaie steeds geblokeer

Written by on March 9, 2021

Die paaie in en uit Lydenburg word steeds geblokeer deur ontstoke betogers wat Donderdag begin opruk het teen Thaba Chweu-munisipaliteit.
Mense is glo ontevrede oor ‘n gebrek aan dienslewering en die beweerde onwettige verkoop van HOP-huise.
Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid, sê 13 mense is gister in hegtenis geneem, vir onder meer openbare geweld.
Paaie is met brandende binnebande afgesper. Kinders kan nie skool toe gaan nie, mense kan nie werk toe gaan nie en die munisipale kantore is gesluit.
Ezrom Sekgobela, woordvoerder van Thaba Chweu, sê hulle het steeds nie ‘n skrywe ontvang van die betogers se presiese klagtes nie.

Hy sê hulle het al vergaderings met gemeenskapsleiers gehad, maar daar is verskillende groeperinge.
Hulle het mense gevra om nie openbare eiendom te beskadig nie. “Die munisipaliteit is reeds ooreis in terme van die voorsiening van basiese dienste. Weens voortdurende vandalisering moet ons infrastruktuur vervang, wat die begroting tap. Dit is geld wat kon gebruik word om van die gemeenskap se ander dringende behoeftes aan te spreek,” lees hul verklaring.

Die DA het ‘n beroep gedoen op die burgemeester, Friddah Nkadimeng, om in te gryp.
Volgens DA-raadslid Comfort Sibiya, kom die geweldadige betogings op die rug van hemelhoë elektrisiteitspryse en dreigemente om hul krag af te sny.
“Ons moedig nie geweld aan nie, maar dit is onregverdig om inwoners wat by die reëls hou te onderwerp aan die afsny van hul elektrisiteit.
“Aanduidings is dat die munisipaliteit se koffers leeggetap word deur skandalige besluitneming en die wanbestuur van openbare fondse.”


×