100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Ligbron help met aanlyn-lesse

Written by on April 20, 2020

Ligbron e-Learning System (LES) het net wat graad 11 en 12 leerlinge benodig om hulle deur inperking te help.
Dié projek is sowat 11 jaar gelede deur Ligbron Akademie vir Tegnologie in Ermelo as ‘n gemeenskapsprojek van stapel gestuur.
Volgens projekbestuurder Natasia Marx, het hulle daarna gesien hoe groot die behoefte na wiskunde- en wetenskaplesse in landelike en onderpresterende skole is.
Marx sê soms het skole ander uitdagings, en Ligbron e-Learning poog om te help.
Veral tans, tydens inperking waar leerlinge skool mis, kan dit van groot waarde wees aangesien wiskunde en wetenskap juis vakke is waarin leerlinge leiding benodig.
Waar die Ligbron e-Learning System projek destyds met slegs drie skole in die Ermelo-omgewing begin het, is daar tans 88 in sewe provinsies.
In die Laeveld is twee: Komatipoort Akademie in Komatipoort en Suikerland in Malalale wat deur TRAC N4 geborg word.

Hoe werk dit?
Die korporatiewe vennote borg ‘n skool en Ligbron instaleer die benodigde toerusting.
Wiskunde en wetenskaplesse vir graad 11 en 12 word vier keer per week deur Ligbron Akademie se eie ervare onderwysers aangebied en – uitgesaai.
Die deelnemende skole kan uit hul klaskamers aanmeld om interaktief aan die klasse deel te neem. Leerlinge kan vrae vra, en alle deelnemers kan mekaar hoor en sien.

Wat gebeur tydens inperking?
LES kan nou juis instaan vir onderwysers, wat nie skool toe mag gaan nie.
Die klasse word steeds weekliks uitgesaai en leerlinge kan tuis deur Zoom aan die les deelneem.
Alle lesse word ook opgeneem, en leerders kan daarna terugkeer om hersiening te doen.
Waar data knyp kan leerders die klasse op televisie kyk, of ‘n lesformaat wat minder data vereis van die internet aflaai.

Die LES-toep
Die jongste toevoeging tot LES se aanbiedinge is die e-boek toepassing vir selfone.
Hier kan jy kies of jy wiskunde en/of wetenskap wil doen.
Die kurrikulum is in ‘n toep omskep wat eenmalig deur leerlinge afgelaai kan word. Teen ‘n klein registrasiefooi kan hulle dit vir die jaar gebruik terwyl hulle van lyn af is.
Dit bevat lesse, opnames van die onderwyser se verduideliking van die materiaal, en ‘n toets om jou selfkennis te toets.
Jy kan ook vir jouself studienotas en boekmerke los vir hersiening.

Borgskappe
Dit kos natuurlik geld, en Marx sê hulle sou graag nog meer skole betrokke wou hê – maar daarvoor benodig hulle korporatiewe borge. Kontak haar by [email protected] of 017-811-2998 of Frans Kalp by 063-469-7819 om betrokke te raak.

Meld aan
Die lesse word daagliks gestroom op Zoom. Besoek ook LIGBRON Online School se YouTube-kanaal. Vir meer inligting, besoek https://ligbrononlinelearning.co.za.

Luister meer


×