100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Laevelders trotseer lang rye vir heropening van drankwinkels

Written by on June 2, 2020

Drankwinkels is vandag oorval deur dors klante, wat vir die eerste keer wettig alkohol kon koop sedert die grendelstaat ingestel is.
President Cyril Ramaphosa het op 23 Maart die inperking afgekondig. Dit het op 27 Maart in werking getree.
Tien weke later het inwoners van Mbombela Maandag sedert 06:00 in lang rye voor drankwinkels begin saamdrom.
‘n Karwag by Makro het opgemerk dat mense reeds van sowat 05:45 voor hul geslote hekke begin toustaan het.
Deur die loop van die oggend het rye mense ook voor ander drankwinkels gevorm, maar dit het oor die algemeen flink gevorder.
By Rooikat Liquors was daar Maandagoggend geen parkering beskikbaar nie.
Volgens Johan Breytenbach, mede-eienaar, het beheersde chaos geheers. Die eerste kopers het so om 06:00 opgedaag.
Volgens Covid-19-regulasies laat hulle slegs sowat 10 mense op ‘n slag in.
Breytenbach sê mense was geduldig: Almal verstaan die situasie en wag hul beurt af.
Hy voeg by dat kopers nie oorboord gaan nie. Volgens hom is dit duidelik dat mense se besteebare inkomste beperk is.
Die uitkring-effek van inperking sal egter nog geruime tyd gevoel word, deur hul klante en hulself.

Die grootste deel van Rooikat Liquors se omset is die verskaf van drank aan kroeë en eetplekke, wat steeds nie voluit handel mag dryf nie.
Breytenbach voorspel hulle sal daarom die werklike gevolge van die inperking eers in die volgende maand voel.
“Ons voorsien veral aan restaurante en kroeë en baie van daai ouens is klein besigheidjies wat baie seer gekry het.”
Rooikat kon tot dusver darem aanhou om hul sowat 60 werknemers te betaal – met hulp van die UIF en besnoeide salarisse.
“Ons kon kos op die tafel hou en dit was vir ons die belangrikste,” sê Breytenbach.
Volgens die jongste Covid-19-regulasies mag alkohol slegs tussen 09:00 en 17:00 vanaf Maandae tot Donderdae verkoop word.

 


×