100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Laevelders gemaan om nie ongeverifieërde boodskappe oor oproerigheid te versprei nie

Written by on July 13, 2021

‘n Totaal van 757 mense is tot dusver gearresteer vir plundery in KwaZulu-Natal en Gautengm waar die weermag ook ontplooi word.
In die Laeveld is die situasie tans rustig. Enkele winkels in Mbombela se sakekern was vanoggend gesluit, na ‘n drank- en meubelwinkel gistermiddag geplunder is, volgens Albert Gryvenstein van Bossies Community Justice. Die polisie het bevestig dat twee mense wat drank probeer steel het, gearresteer is.
Verskeie winkelsentrums het Maandag vroeg gesluit as ‘n voorsorgmaatreël.
Mbombela se taxi-verenigings het aangekondig dat hulle saam met die munisipaliteit se wetstoepassers aan patrollies sal deelneem om enige plundery en vandalisme hok te slaan.

Die ses taxi-verenigings sê dit is om hul belange te beskerm. Mbombela-munisipaliteit het voorvalle van plundery en vandalisme veroordeel en sê hulle sal enige inisiatief ondersteun wat poog om reg en geregtigheid bevorder.
Volgens die Kruger-Laeveld-sakekamer (KLCBT) is daar tans geen oproerigheid in Mbombela of Witrivier nie. AfriForum se Witrivier-tak sê boodskappe dat ondernemings in Riverside moet sluit is onbevestig.
Die polisie in Witrivier en Nelspruit is op ‘n hoë gereedheidsvlak.
‘n Klein groepie mense het vanoggend klippe gepak in die pad net buite Sabie na Hazyview, maar die pad is steeds oop en die situasie word deur Sabie be Safe gemonitor. Gwilym Rees sê die dorp is rustig. So ook is Graskop.
Volgens Lance Gibson word daar vanmiddag ‘n vergadering gehou om voor te berei, sou enige voorvalle in die dorp opvlam.
‘n Dreigement dat plundery gisteraand van Matsulu na Malalane sou versprei het nie gerealiseer nie. Die sakegemeenskap bly egter waaksaam.
Volgens berigte is die R36 net buite Machadodorp na Carolina toe weens brandende buitebande in die pad. Gerugte dat ondernemings in Bosbokrand aangeraai is om te sluit, is nie bevestig nie.

Joe Pelser van AfriForum Witrivier sê mense moet versigtig wees, aangesien oproerigheid ter enige tyd en plek uit kan breek. Inwoners is egter gevra om nie onakkurate inligting te versprei nie.


×