100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Kunstenaars sal nooit kan stil raak nie

Written by on April 3, 2020

Die impak van die koronavirus het verskillende bedrywe hard getref. Vir akteurs en kunstenaars was dit ʼn geweldige skok toe die direkteur van die KKNK, Hugo Theart, op 14 Maart aangekondig het dat hierdie fees nie vanjaar gaan plaasvind nie. Dit was nog byna twee weke voordat pres. Ramaphosa die landwye inperking afgekondig het. ʼn Paar kunstenaars het soos Lizz Meiring, ʼn pleidooi gelewer dat konserte kan voortgaan, met minder as 100 gehoorlede. Ongelukkig het die tydperk van inperking ook hierdie planne in die wiele gery. Hoe gemaak as jy ʼn musikant is wat graag jou musiek wil deel? ʼn Klompie kunstenaars het saam met Mathys Maree van die Atterbury Teater in Pretoria saamgewerk en ʼn musiekkonsert met onder meer Amanda Strydom, Theuns Jordaan, Jannie Moolman, Jak de Priester en Kevin Leo voor ʼn leë gehoorsaal opgeneem. Dit is aanlyn gedeel en meer as 26 000 liefhebbers van Afrikaanse musiek van reg oor die wêreld kon saamluister. Vanuit Australië, Nieu-Seeland, Hongkong, Kanada, Nederland en Taiwan het mense op Saterdagaand 21 Maart saamgeluister. Daar word ook nou planne beraam om op hierdie manier ʼn bietjie inkomste vir sekere van die musikante te genereer. ʼn Hele paar ander het ook ingespring en begin om konserte vanuit die privaatheid van hulle eie huise aanlyn te stroom sodat aanhangers saam kan kyk en luister. Van hierdie kunstenaars is Laurinda Hofmeyr wat reeds op die aand van 26 Maart haar musiek op Facebook gedeel het in ʼn tuiskonsert. Elvis Blue het ook nie op hom laat wag nie. Op 27 Maart het hy ʼn sy aanhangers vermaak met ʼn Facebook-konsert. Nog ʼn ou hand in die bedryf is Jannie du Toit. Jannie, wat ook die eienaar van ʼn gastehuis in Melville is, Die Agterplaas, is dus sy inkomste op twee maniere kwyt. Die gastehuis, moes volgens die regulasies van die tydperk van inperking, ook vir drie weke sy deure sluit. Tog kry al hierdie slegte nuus nie vir Jannie onder nie. Hier deel hy een van sy mooi skeppings vanuit die kombuis daar by Die Agterplaas. Luister gerus saam, nooi hy ons almal uit. Hoe kan ʼn kunstenaar dan ooit stil raak?


×