100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Krugerwildtuin verwelkom weer dagbesoekers: Wat jy moet weet

Written by on June 9, 2020

Die Nasionale Krugerwildtuin is weer oop vir dagbesoekers.
Na meer as twee maande van inperking is die meeste van SANParke se reservate Maandag weer vir dagbesoekers oopgestel.
Rey Thakhuli, waarnemende hoof van kommunikasie van SANParke, sê hulle is baie opgewonde om na ‘n paar lang, uitdagende maande weer die parke oop te kon maak.
Besoekers wat uitgehonger was vir ‘n besoek het vroegdag al by die Krugerwildtuin se hekke begin toustaan.
Die meeste van die park se hekke is oop, met die uitsondering van Numbi en Pafuri.
Streng voorsorgmaatreëls is in plek gestel om besoekers en werknemers te beskerm.
Slegs sowat ‘n derde van die gewone hoeveelheid besoekers sal per dag in die park toegelaat word.
Besoekers moet dus vooraf bespreek om tussen 06:00 en 08:00, 08:00 en 10:00 of vanaf 10:00 te arriveer.
Interprovinsiale reis in parke word ook nie toegelaat nie. Besoekers wat dus in Mpumalanga die park binnegaan, moet ook in Mpumalanga uitgaan.
Thakhuli kon nog nie besoekersgetalle aan die Krugerwildtuin vir Maandag bevestig nie, maar verwag dit sou hoog wees, na aanleiding van die groot aanval navrae wat hulle van die publiek ontvang het.

Ander maatreëls sluit in dat uitkykpunte en piekniekplekke nog nie oop is nie en braai word nie toegelaat nie.
Ablusiegeriewe in kampe, by hekke en sommige piekniekplekke is oop. ‘n Beperkte aantal winkels en vulstasies sal ook handel dryf.
Besoekers moet gesigmaskers dra. Insittendes in voertuie is beperk tot 70% van die voertuig se kapasiteit.
Die park het verder gevra dat besoekers nie hul rommel in die park se asblikke weggooi nie, maar eerder soveel as wat higiënies. moontlik is, saam met hulle wegneem.
Mense wat kontak gehad het met ‘n persoon wat moontlik Covid-19 onder lede het, word gemaan om tuis te bly. Enigiemand met ‘n temperatuur van meer as 37,3°C moet ook liefs nie die park besoek nie.
Geen besoekers mag in die park oornag nie.
Mense word ook aangemoedig om hul eie hand-saniteerders saam te bring.
Bespreek jou plek by 012-428-9111 of sanparks.org.

 


×