100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Kommer oor ‘omstrede’ lede op Mega en MTPA se nuwe direksies

Written by on August 18, 2021

Die DA het hul kommer uitgespreek oor sommige lede wat op die nuwe direksies van die Mpumalanga Ekonomiese Groei-agentskap (Mega) en Mpumalanga Toerisme- en Parke-agentskap (MTPA) aangestel is.
Die uitvoerende raad in die provinsiale regering het gister die aankondiging gemaak.
Thabo Motau en Dina Pule sal vir die volgende vier jaar die voorsitter en ondervoorsitter van Mega wees, en Victor Mashego en Salome Sithole dié van die MTPA.
Die DA het alarm gemaak oor wat hulle die omstrede aanstellings van Pule en Sithole noem.
Pule is in 2013 van haar amp as minister van kommunikasie onthef na die parliament se etiekkomitee bevind het haar vriend het finansiële voordeel uit die departement getrek.
Sithole is in 2015 herroep as burgemeester van eMalahleni (Witbank). Die DA se Bosman Grobler sê dit is kommerwekkend dat sy aan die stuur van sake was toe dié munisipaliteit onder administrasie geplaas is.
Die party is ook bekommmerd dat Jabulani Mahlangu op Mega se direksie is. Hy het van 2004 tot 2011 as ‘n LUR vir verskillende portefeuljes in die provinsiale regering gedien. Hy was van 2014 tot 2019 ook ‘n lid van die Nasionale Vergadering.
Die DA se kommer is dat sy ervaring prosesse kan ondermyn. Grobler wonder ook waarom ‘n nuwe direksie vir die sukkelende Mega aangestel is, voor ‘n nuwe uitvoerende hoof.

Die direksie van Mega is in Februarie 2019 ontbind toe dit gesukkel het om ‘n kworum te bereik. ‘n Tussentydse raad is aangestel. Isaac Mahlangu is in September verlede jaar vir ses maande as waarnemende uitvoerende hoof aangestel.
Nombulelo Mkhumane, Melusi Masilela, David Maimela, Cyril Pule, Elinacia Radebe, Maria Mmatseleng en Nokulunga Mashele is ook nuut aangestel op Mega se direksie, en dr. Eric Khumalo, William Lubisi, Lungi Mlaba-Dludla, Judith Nkosi, Noxolo Oyiya, Bernard Masipha, Bethuel Sibanyoni en Lindiwe Diphuthla by die MTPA.
Die aanstelling van ‘n nuwe direkteur-generaal is ook gister goedgekeur. Makhukhu Mampuru sal in September die amp opneem. Hy vervang Sindisiwe Xulu wat in Februarie verlede jaar aangestel is.
Hy het lang ervaring in die staatsdiens, en het verskeie posisies beklee in die departement van ekonomiese ontwikkeling, ook as departementshoof.
Grobler sê hulle sal die premier, Refilwe Mtshweni-Tsipane, vra om te verduidelik watter kriteria gebruik is om die nuwe direksielede aan te stel.


×