100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Inwoners is in vir stywe verhoging in elektrisiteitsprys

Written by on June 3, 2021

Julie is om die draai, en met dit nuwe munisipale tariewe. Mbombela-munisipaliteit se begroting vir die 2021/22 finansiële jaar wat op 1 Julie afskop, is Maandag tydens ‘n raadsvergadering goedgekeur.
DA-raadslid, Sanley van der Merwe, sê egter dat hulle steeds nie die verslag van die ouditeur-generaal of die geouditeerde finansiële verslae van 2019/20 gesien het nie.
Volgens haar word dokumentasie van oposissiepartye in die raad weerhou, en daarom weet hulle nie hoekom Mbombela vol vertroue is dat hulle die komende jaar hul insamelingskoers tot 95% sal verbeter nie.
Sy voer aan dat, sonder enige ondersteunende dokumente, dié oogmerk uit hul duime gesuig is, soos in die huidige finansiële jaar.

“Hulle verwag ons moet net glo wat hulle sê, maar ons weet nie, ons kry nie dokumentasie nie,” sê Van der Merwe. “Hulle kan nie van ons verwag om begrotings goed te keur sonder die ondersteunende dokumente nie.”

Tariewe
Die nasionale energiereguleerder (Nersa) het Eskom ‘n tariefverhoging van 15,06% toegestaan wat in April in werking getree het. Munisipaliteite kan dit egter eers vanaf die nuwe finansiële jaar instel, en om die verskil op te maak sal krag daarom van 1 Julie 17,8% duurder wees.
Silulumanzi se tariewe sal met 8,67% toeneem. Water wat die munisipaliteit self verskaf sal 7,78% duurder wees.

Dienste
Volgens die begroting is die instandhouding van elektrisiteits- en water-infrastruktuur sowel as paaie Mbombela se grootste prioriteit, aldus burgemeester, Sibusiso Mathonsi.
R65 miljoen is geoormerk vir die instandhouding van paaie, R43 miljoen vir water, R42 miljoen vir elektrisiteitsinfrastruktuur en R12 miljoen vir die formalisering van informele nedersettings.

Water
Agnes-myn vragmotor-vulstasie en verpakkingsaanleg: R14 miljoen in 2021/22
Installasie van vragmotor-vulstasie en staaltenk in Kabokweni: R3,5 miljoen
Handel markstalletjies by Plaston en Mahushu af binne die volgende drie maande
Nsikazi-Noord groot wateraanleg: R170 miljoen oor die mediumtermyn
Fase 3 van die Nsikazi-Noord en -Suid waterwerke: R53 miljoen oor die mediumtermyn
Nsikazi-Suid via Karino groot wateraanleg: R45 miljoen oor die mediumtermyn
Sandrivier-pompstasie in Witrivier: R43 miljoen oor die mediumtermyn
Opgradering van Suid-Kaap waterwerke in Barberton: R35 miljoen oor die mediumtermyn
Elandshoek groot wateraanleg en opgradering van die waternetwerk: R20 miljoen oor die mediumtermyn.


×