100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Hoërskool Nelspruit skop skooljaar op hoë noot af

Written by on March 30, 2021

Die dames met finesse van Huis Maré het verlede week hul mooiste rokke aangetrek vir 2020 se prysuitdeling wat weens die Covid-19-pandemie nie in 2020 aangebied is nie.
Daar is besluit om vanjaar ‘n spesiale verwelkomingsfunksie te hou, wat ook vrouwees vier.
Joshua na die Reën het die meisies betower met hul treffers soos “Vir altyd” en “Lig op die horison”.
Lize Louw is as die dame met finesse aangewys, Anica Roos as gr. 12 van die jaar en Melize Lindeque as die gr. 8 van die jaar. Die koshuisvadertoekenning is aan Chrisna Loubser toegeken.

2020 se akademiese presteerders was Milda van Dyk (gr. 12), Lanika Leuvennink (gr. 11) Katrien Hiemstra, (gr. 10), Danielle Bothma (gr. 9) en Melize (gr. 8).
Vir Hoërskool Nelspruit (NHS) se nuwelinge het hul eerste kwartaal in die hoërskool ook op ‘n drafstap begin.
Vanjaar se gr. 8’s het dadelik met oriëntering begin waartydens hulle gou die skoollied se woorde en alles oor die skool se trotse tradisies, waardes en kultuur geleer het.
Daar is ook hard geoefen aan die gr. 8-konsert: “Nelmanji”. Die hoofkarakters was ‘n spieëlbeeld van die karakters uit die bekende rolprent “Jumanji”.
Dié spogproduksie is op Donderdag, 11 Maart regstreeks op DigiTV uitgesaai.

Pedrie Claassens speel Nigel, Divan de Kock is dr. Brawesteen, Nina Prinsloo Robyn Rondehuis, Jan Malan speel Batricia van Brakpan en Siyabonga Lubisi vertolk Finbar.
Die kleurvolle en kreatiewe kostuums, skerp sêgoed en choreografie het alles tot die sukses van die produksie bygedra.
Dit was ook die 15de konsert wat deur juff. Kriekie Bekker se bekwame hande georganiseer is.
Na afloop van die konsert is die gr. 8-vaandel aan die klasverteenwoordigers, Ema Snyman en Gert Cloete, oorhandig. Die gr. 8-credo is voorgehou en met hierdie seremonie is die nuwelinge as volwaardige Nellies verwelkom.
“Hierdie geleentheid kom net een keer in ‘n skoolloopbaan,” sê die hoof, Johan Hattingh. “Baie dankie vir die bestuurskomitee en onderwysers se klipharde werk, ywer en toewyding om die amper-Nellies, Nellies te maak.”


×