100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Groot plaasmoord-protes die maand beplan

Written by on October 6, 2020

Swart Maandag het ‘n beroep op al die land se boere gedoen om op 25 Oktober saam te protesteer teen plaasmoorde.
‘n Protes word ook in Hazyview beplan.
Plaasmoorde is weer onder die soeklig geplaas hierdie week, na die wrede moord op die 21-jarige Brendin Horner in die Vrystaat.
Hy is Donderdag in die Paul Roux-omgewing vermoor. Sy lyk is die volgende oggend vasgemaak aan ‘n paal gevind.
Twee mans is Saterdag vir sy moord in hegtenis geneem.
Sekwetje Isaiah Mahlamba (32) en Sekola Piet Matlaletsa (43) het Dinsdagoggend vlugtig in die Senekal-landroshof verskyn op ‘n aanklag van moord.

Chaos het by die hof uitgebreek tussen die polisie en honderde boere wat die verskyning van die twee moordverdagtes bygewoon het.
Volgens berigte voer die polisie aan dat ‘n weerbarstige groep boere die hofgebou bestorm het en geëis het dat die verdagtes aan hulle oorhandig word.
‘n Polisievoertuig is omgegooi en aan die brand gesteek. Onlustepolisie was op die toneel. Skote en traangas is glo afgevuur.
Die saak is tot 16 Oktober uitgestel.
Die 25ste Oktober is die drie-jaar herdenking van die begin van Swart Maandag.
Valerie Byliefeldt verduidelik dat dit in 2017 van stapel gestuur is, as ‘n dag van rou in die harte van boere.

“Die meeste plaasaanvalle vind plaas oor naweke, so Maandae is ‘n swart dag van rou vir baie gesinne,” sê sy.
Byliefeldt is self ‘n boer wat reeds vier aanvalle oorleef het, en haar enigste boetie in ‘n plaasaanval verloor het.
Swart Maandag het ten doel vir boere om saam te kom om hul vermoorde kollegas te onthou.
“Die boere wat reeds vermoor is, is nie statistieke nie. Hulle het name,” voeg Byliefeldt by.
Die groep wil ook druk op die regering plaas om ‘n spesiale eenheid te skep om mense in landelike areas te beskerm op hul plase.
Besoek Nasionale Swart Maandag SA op Facebook vir meer inligting oor die beplande protes.


×