100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Groot beleggings in paaie beplan

Written by on October 14, 2021

‘n Opgradering van R400 miljoen word beplan vir die Long Tom-pas, het Sanral die week aangekondig.
Die agentskap het Dinsdag saam met die adjunkminister van vervoer in Lydenburg besoek afgelê om met die gemeenskap van Thaba Chweu-munisipaliteit oor beplande projekte, en werksgeleenthede, te vergader.
Meer as R3 miljard is bewillig vir padkonstruksie en R350 miljoen vir die bestuur en instandhoudingswerk aan paaie in Mpumalanga.
Madoda Mthembu, Sanral se operasionele- en instandhoudingsbestuurder vir die noordelike streek, sê padveiligheid en ekonomiese ontwikkeling loop vir hulle hand aan hand.
Volgens die adjunkminister van vervoer, Sindisiwe Chikunga, wil hulle ‘n kwaliteit padnetwerk bou en onderhou.
“Ons as die departement van vervoer, is daartoe verbind om ‘n bevoegte, bekwame en etiese staat te ontwikkel om die ekonomie te groei,” sê sy.
Dit is ook vir hulle van belang om betekenisvolle en volhoubare ekonomiese geleenthede te skep deur hul projekte.
Sanral se raadsvoorsitter, Themba Mhambi, sê hoewel Thaba Chweu die tweede kleinste plaaslike munisipaliteit in die distrik is, is dit vir hulle ook belangrik om te verseker dat hul projekte kleiner gemeenskappe bereik.
Brugemeester van Thaba Chweu, Friddah Nkadimeng, het by die geleentheid gesê hulle is veral besorg oor die veiligheid van die R37, in die besonder vir voetgangers, en is bly dat dit aandag kry.
‘n Totaal van 14 projekte wat die paaie veiliger maak vir voetgangers word ook beplan in die provinsie.
Verskeie ander projekte word ook in die Laeveld beplan.

Dit sluit in die opgradering van die R40 vanaf Barberton tot Bosbokrand en werk aan die R38 en N4 sowel as die R570, R571, R581 en R582 in Nkomazi.


×