100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Gardee-familie dagvaar regering, twee beskuldigdes bring nuwe borgaansoeke

Written by on October 19, 2022

Twee van Hillary Gardee se vermeende moordenaars het gister nuwe borgaansoeke gebring.
Sipho Mkhatshwa, Philemon Lukhele, Albert Gama en Hlabirwa Rasie Nkune word aangekla van sameswering om moord te pleeg, moord, verkragting, ontvoering, die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en regsverydeling.
Die liggaam van die 28-jarige dogter van die voormalige sekretaris-generaal van die EFF, Godrich Gardee, is op 3 Mei in ‘n plantasie op die Sabie-pad ontdek na sy op 29 April in Nelspruit vermis geraak het.
Lees meer: Datum vasgestel vir Hillary Gardee-moordverhoor
Mkhatshwa is aanvanklik borgtog geweier, en bring die nuwe aansoek op grond van “nuwe feite”, berig News24. Philemon Lukhele doen vir die eerste keer aansoek na hy dit vroeër vanjaar laat vaar het.
Gama se borgaansoek is van die hand gewys en Nkune het sy borgaansoek laat vaar.
Intussen eis die Gardee-familie R18 miljoen van die minister van korrektiewe dienste, Ronald Lamola, omdat Nkuna op vrye voet was ten tyde van Gardee se dood.
Sowetan berig dat Nkune in 2019 uit die tronk vrygelaat is, maar sy paroolvoorwaardes verbreek het en die departement het hom nie daarvoor opgesluit nie. Volgens die familie sou hy dan tot ten minste 2023 agter tralies gewees het.
Hulle eis R2 miljoen elk vir nege familielede vir pyn, lyding, trauma en skok sowel as skadevergoeding vir kostes verwant aan Gardee se begrafnis.
Nkune is beskryf as ‘n vermeende reeksmoordenaar en word ook aangekla van die moord op drie ander vroue in Mpumalanga.
Hy het na bewering in Mei sy vriendin, Pretty Mazibuko, en haar polisiebeampte suster, sers. Marcia Mazibuko, in KaNyamazane doodgeskiet. Die vierde moord was op 6 Augustus in Sundra.
Volgens die polisie het hy teenoor hulle erken dat hy betrokke was by die moord op Gardee.
Lees meer: Verdagte erken glo hy was betrokke by moord op Hillary Gardee
Mkhatshwa en Lukhele verskyn weer 25 Oktober oor hul borgaansoeke.
Die vier se moordverhoor is vasgestel vir 11 April tot 12 Mei in die Mpumalanga Hooggeregshof in Mbombela.


×