100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Ekonomiese herstelplan in die Laeveld verwelkom

Written by on October 16, 2020

President Cyril Ramaphosa het Donderdag sy ekonomiese herstelplan aangekondig.
Dit fokus veral op die skep van werk, infrastruktuur en alternatiewe energie.
Die regering het R100 miljard bewillig om meer as 800 000 werksgeleenthede oor drie jaar te skep.
Daarvan sal 300 000 geleenthede wees vir jong mense by skole. Meer as 60 000 sal gemik wees op konstruksie en onderhoud van munisipale infrastruktuur.
Nog 6 000 gemeenskapsgesondheidswerkers en verpleeg-assistente sal opgelei word.
Nagenoeg twee miljoen mense het weens die Covid-19-pandemie hul werk verloor.
Die regering sal ook toelaes uitbrei na sport en die kunste. Die spesiale Covid-19-toelaag is ook met ‘n verdere drie maande verleng.
Ramaphosa het ook klem geplaas daarop om plaaslike vervaardiging te vermeerder. Verder sal energiebronne diversiviseer.
Volgens Linda Grimbeek, uitvoerende beampte van die Kruger-Laeveld-sakekamer, is dit goeie nuus, ook vir die Laeveld.

“Ons het dit al voorheen gehoor. As jy jou verbeel dat jy dit vir die eerste keer hoor, maak dit my opgewonde.
“As Suid-Afrika so uit geld begin hardloop, kan jy nie meer ambisie hê as dít nie.”
Sy voeg by dat die plan hopelik sinvol geïmplementeer sal word.
“Dit is sinvol om te kyk na werkverskaffing en te kyk na alternatiewe energie. Dit is die grootste probleem tans. As dit uitgerol kan word, kan ons baie drome verwesenlik.
“Vervaardiging moet groei. Dit is ‘n goeie beleid, maar dan het jy sekerheid van energie nodig.
“Dit kan gedoen word,” voeg sy by. “Dit móét gedoen word.”
Van die infrastruktuurprojekte sal die Laeveld baat.
“Enige sulke projekte stimuleer die ekonomie. En as die elektrisiteitskwessie aangespreek word, is dit baie goed vir ons.”


×