100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Duidelikheid nodig vir toerisme na inperkingsregulasies verslap

Written by on June 18, 2020

Jy sal eersdaags weer kan uiteet en jou hare laat sny, maar ‘n toeris wees? Daaroor word nog duidelikheid verlang.
President Cyril Ramaphosa het Woensdagaand aangekondig dat verskillende industrieë binnekort sal kan heropen, al bly die land vir eers op vlak 3 van inperking.
Dit is goeie nuus vir haar- en skoonheidsalonne asook nie-kontaksport, teaters en casino’s.
Ook restaurante en hotelle sal weer binne beperkings sake kan doen.
Wat dit egter beteken vir toerisme, een van die Laeveld se grootste ekonomiese dryfvere, is onduidelik.
Hoewel die Nasionale Krugerwildtuin oop is vir dagbesoekers, bly ander toeristeaantreklikhede gesluit.
Oupa Pilane, president van die Kruger-Laeveld-toerisme-en-sakekamer, sê hulle verwelkom die besluit om meer ondernemings toe te laat om weer oop te maak, maar hulle sal die minister van toerisme nader vir meer duidelikheid.

Pilane waarsku dat die bedryf vinnig sal moet speel om grootskaalse werksverliese te keer – tot 30 000 van die 80 000 wat tans bestaan.
“Ons verwelkom die heropening maar ons benodig ‘n verduideliking oor of mense sal mag reis. Wat beteken dit vir ‘n restaurant wat in ‘n toeristeaantreklikheid geleë is? Sal ons ander plekke mag besoek?” vra hy.
Die sakekamer praat deurgaans met die provinsiale bevelsraad, maar Pilane voel dit werp geen vrugte af nie.

“Ons dink nie dat hulle enige besluitnemingsmagte het nie,” sê hy. “Die nasionale Covid-19-bevelsraad maak al die besluite.
“Ons voorleggings aan hulle help nie want ons het nog geen aksie van hulle gesien nie.
“Die president het aangedui dat ons kan kyk na individuele provinsies se infeksiesyfers, en Mpumalanga is nie so hard getref nie, so jy sou aanneem dat meer aktiwiteite al sou oopgemaak het, maar dit het nie gebeur nie.”
“Ons hoop dat die minister dit sal kan uitklaar. Ons moet regtig ons koppe bymekaar sit sodat van die werksgeleenthede gered kan word,” sê Pilane.

 


×