100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Die Laeveld is in vir nóg ‘n nat week

Written by on February 11, 2021

Nog ontwrigtende reën word in die Laeveld voorspel vir die volgende week.
Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sal dit na verwagting weer vloede veroorsaak, veral omdat die grond reeds versadig is na die afgelope weke se reën.
Vloede het weens tropiese storm Eloise reeds die afgelope weke groot skade aan huise, en infrastruktuur aangerig. Meer as 700 huise is reeds beskadig.
“Die meeste paaie is beskadig en ons het verskeie brûe verloor,” sê Jacques Benade van Mpumalanga-rampbestuur.
Die voorspelde reën is grootliks weens ‘n hoëdrukstelsel wat vog bring en ‘n laedrukstelsel wat oor Mosambiek se kus ontwikkel.
Volgens Lehlohonolo Thobela, ‘n weervoorspeller by die SAWD, behoort die verre ooste van Mpumalanga, wat Ehlanzeni-distrik insluit, en Limpopo erg geraak word vanaf Vrydagmiddag tot Woensdagmiddag, of selfs Donderdagoggend.
Benade bevestig dat alle reddingspanne en rolspelers, van die weermag tot gemeenskapswerkers, in Mpumalanga op ‘n hoë gereedheidsvlak geplaas is.

Die dodetal in die provinsie weens oorstromings staan tans op nege. Twee mense word nog gesoek, en een is ongedeerd opgespoor.
“Dit is nou ons reënseisoen,” sê Benade en voeg by dat Eloise die situasie “redelik vinnig” versnel het.
“Ons werk naby saam met die departement van waterwese en moniteer die riviervloeie. Ek wil byvoeg dat die oopmaak van die Vaaldam se sluise nie ‘n impak op ons sal hê nie.
“Van ons damme is ook vol, so ons maak van die sluise versigtig oop om nie laer af probleme te veroorsaak nie.”
Die jongste damvlakke lyk vandag as sulks: Vygeboom 102%, Blyderivier 101,5%, Witklip 101,4%, Primkop 101%, Da Gama 100,8%, Driekoppies 99,8%, Klipkoppjes 79%, Kwena 77,5%, Inyaka 75,9%, Longmere 73% en Lomati 51,7%.
Verder is waarskuwings aan gemeenskappe in laagliggende gebiede gegee, voeg Benade by.
“Mense is soms nie gewillig om te trek nie, en is bang daar sal diefstal wees as hulle hul plekke verlaat.
“Boonop met die Covid-19-pandemie is dit vir ons ook moeilik – ons kan net 20 mense in ‘n kerk huisves waar ons voorheen 50 kon. Ons het dit wel suksesvol gedoen in Mkhuhlu toe ons 60 mense in drie sentras, met hulp van die Rooikruis, kon huisves.”
Hy voeg by hulle het die afgelope 18 dae 13 amptelike reddings vermag en vyf addisionele sterftes weens verdrinking, maar wat nie verwant was aan vloede nie. 


×