100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Dakar 2023: Basson eindig sewende in sy debuut by Dakar

Written by on January 16, 2023

Nasser Al-Attiyah van Katar en sy Franse medebestuurder, Mathieu Baumel, het gister die Dakar-tydren in Saoedi-Arabië vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar gewen.
In die T3-klas het die plaaslike tydrenryer, Eben Basson, en sy navigator, Leander Pienaar, hul eerste Dakar in die sewende posisie afgesluit vir die G Rally-span.
Hulle het ook die wennersmedalje in die Liggewig Prototipe Nuweling-kategorie verower.
Sien ook: Dakar 2023: Basson bly in sewende plek met twee skofte oor
(almal wat in ‘n hoër posisie klaargemaak het, het al voorheen aan Dakar deelgeneem).

“Ons doelwit was om klaar te maak, maar voor ons begin het, het ons vir mekaar gesê ons is nie hier om rond te speel nie,” sê Basson, ‘n sakeman van Komatipoort. “Ons het aan onsself die teiken gestel om in die top 10 te eindig.”

Dakar was die eerste keer dat hulle ‘n G Rally-span OT3 bestuur het.
“Ons het soos baie ander deelnemers ‘n paar ongelukkige terugslae beleef wat ons van waardevolle tyd en ‘n paar posisies beroof het, maar dit is ‘n resies en dit is vir almal dieselfde,” sê Basson.
“As ‘n renjaer wil jy altyd wen, maar dit is ‘n wonderlike uitslag vir ons.”


×