100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

DA vra provinsie om in te gryp by sukkelende munisipaliteite

Written by on January 13, 2021

Die DA in Mpumalanga het weer ‘n beroep op die provinsiale regering gedoen om in te gryp by sukkelende munisipaliteite.
Hulle wil veral dat eMalahleni onder administrasie geplaas word.
Volgens die party se woordvoerder vir samewerkende regering, Trudie Grovè-Morgan, wys hul navorsing dat eMalahleni teen 31 Oktober Eskom ‘n allemintige R4,6 miljard geskuld het.
Thaba Chweu-munisipaliteit (TCM) was die kragreus R827 miljoen verskuldig.
Grovè-Morgan sê dit is ‘n uitdaging vir landelike munisipaliteite soos TCM om geld wat aan hulle verskuldig is, in te samel, maar ander, soos Bosbokrand, betaal wel hul skuld elke maand.

“TCM is fisies groot en baie landelik. Die probleem is dat die mense wat werklik betaal, beperk is. Dit is ‘n feit dat mense onwettige aansluitings gebruik om elektrisiteit en water te bekom.
“Tog slaag Bosbokrand, wat geen werklike dorpsgebied het nie, om maandeliks hul skuld aan Eskom te betaal.”
Sy voeg by dat ander ook met Eskom ooreenkomste aangaan, maar nie daarby hou nie. “Baie van die skuld is rente, so dit is geld wat op die water gegooi word.
“‘n Munisipaliteit moet soos ‘n sakeonderneming bestuur word: Jy moet kyk hoeveel jy inkry en daarvolgens bepaal hoeveel jy Eskom kán betaal.
“Hierdie munisipaliteite is ‘n gemors,” voeg sy by. “Die mense weet nie hoe om dit te bestuur nie.”
Hul probleme is deeglik geboekstaaf. Verlede jaar het inwoners van TCM proteste gehou weens dienste wat nie aan hulle gelewer word nie.
Aan die ander kant, word eMalahleni, volgens die DA, R5,3 miljard geskuld vir dienste wat hulle gelewer het.
“Ons vra al ‘n jaar dat eMalahleni onder administrasie geplaas word. Die regering het ‘n finansiële herstelplan wat hulle eers op munisipaliteite toepas voor hulle onder formele administrasie geplaas word, maar steeds vererger hul situasies net elke finansiële jaar.
“Wat sê dit vir jou? Wat hulle ookal doen, werk nie. Dit is skokkend. Hulle laat toe dat die skuld toeneem.”
Mbombela skuld Eskom self honderde miljoene. Grovè-Morgan sê sy ondersoek wat daar aangaan.
Die appèlhof het einde Desember beslis dat Eskom nie meer vrot rade se krag af mag sny nie, na sakelui van eMalahleni sowel as die sake-en toerismekamers van Sabie, Graskop en Lydenburg die hof daaroor genader het.
Die hof het beslis dat Eskom eers wetlike meganismes moet gebruik om enige dispuut met ‘n munisipaliteit te besleg.
Dit het ook bevind dat rade nie die geld het om hul skuld te betaal nie, en dat provinsiale en nasionale regerings in moet gryp.


×