Borg geweier vir vermeende Witrivier-skieter
Written by Mireille on July 8, 2025
Marco Schalekamp (41) is deur die Witrivier-landdroshof borgtog geweier.
Hy staan tereg weens die moord op Pieter Burger (21) en poging tot moord op Arno van Niekerk (21) tydens ‘n skietery naby Witrivier-rugbyklub vroeg die oggend van 5 Junie.
Schalekamp is self tydens die voorval drie keer geskiet.
Maroela Media berig die landdros het beslis dat hy met staatsgetuies kan inmeng as hy vrygelaat word en dat daar nie uitsonderlike omstandighede bestaan wat borgtog regverdig nie.
Volgens die hof het hy nie ‘n vaste adres nie, en word sy kind goed versorg in sy afwesigheid wanneer hy gereeld vir maande aaneen in die buiteland gaan werk.
Die saak is uitgestel tot 21 Augustus vir verdere ondersoek en finalisering van die ballistiese verslae. Hy bly in aanhouding.