100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Barbertonners aangemoedig om te kla oor hoë waterrekeninge

Written by on October 20, 2020

Inwoners van Barberton het nie net ernstige beurtwater nie, maar moet nou glo ook baie meer daarvoor betaal.
Inwoners kla dat hul onlangse waterrekeninge uitermatig hoër as gewoonlik is. Dít terwyl hulle streng beurtwater ervaar.
Dit is in Augustus ingestel, weens die lae vlak van die water in Lomati-dam, wat die dorp van water voorsien.
Volgens raadslid, Philip Minnaar, is beurtwater onvermydelik.
Die dam is slegs 17,8% vol. Daarom mag hulle slegs 30% van hul gewone toelaag gebruik.
Dit maak die waterskedule amper onmoontlik om te implementeer.
Gevolglik is die meeste van die dorp en Emjindini daagliks op ‘n stadium sonder water.
Minnaar skryf die hoër rekeninge deels toe aan die feit dat lug in die pype beland wanneer dit leeg loop nadat die toevoer afgesny is.
Wanneer dit water weer aangesit word, vloei die lug deur mense se watermeters en stoot hul rekeninge op.

“Mbombela het op ‘n vorige geleentheid gesê dat as mense so ‘n probleem het, moet hulle net inkom en hulle sal dit ondersoek.”
Hy het alle inwoners sterk aangemoedig om fisiese klagtes daaroor by die munisipaliteit in te dien sodat dit ondersoek kan word en die probleem aangespreek kan word.
“As net ‘n paar mense kla gaan hulle nie die omvang van die probleem besef nie,” sê Minnaar.
Om dit teen te werk, kan mense hul eie stopkrane toedraai sodra die water afgesit is, en dit eers weer oopdraai wanneer die water weer deur die stelsel versprei het.
Hy voeg by dat hulle maniere ondersoek om inwoners moontlik te vergoed vir hul rekeninge.
En waarsku: Tot genoegsame reën nie ontvang word nie, sal die situasie vererger.


×