100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Barberton se waterprobleme duur voort

Written by on February 24, 2021

Barberton ervaar steeds wateronderbrekings, al is die Lomati-dam amper 69% vol.
Die beurtwater wat inwoners al sedert Augustus ervaar, is weens die goeie herstel van die damvlak nou iets van die verlede.
Tog is die Queen’s-rivier, juis weens die onlangse goeie reën, tans te modderig om water daaruit te onttrek om te kan suiwer.
Die gevolg is dat genoeg water nie gesuiwer kan word om die hele dorp te voorsien nie, al werk die dam se suiweringsaanleg teen vol kapasiteit, verduidelik DA-raadslid Philip Minnaar.
Die Lomati-dam se vlak het in Januarie, voor tropiese storm Eloise, nog by 14% gedraai. Dit was gister 68,5%.

“Ons het nog ‘n probleem in die dorp dat daar op ‘n gereelde basis areas is wat nie kan water kry nie,” sê hy. “Dit is te wyte daaraan dat, met die goeie reën wat ons gekry het, die water in die Queen’s-rivier baie modderig is en kan ons dit nie onttrek nie.”
Barberton se watertoevoer kom vanuit die dam, asook ‘n onttrekkingspunt in die rivier. Elk het sy eie suiweringsaanleg.
“Dit veroorsaak dat daar ‘n redelike tekort is,” gaan Minnaar voort. “Die dam se watersuiweringswerke hardloop op vol kapasiteit, maar ons het Queen’s-rivier nodig vir almal om 100% water te kry.
“So daar is ‘n redelike groot las op die water wat van die dam af kom en die verbruik is redelik hoog: soos die water gesuiwer word, gaan dit weer amper direk uit. Dit maak dit baie moeilik om die reservoirs vol te maak.”
Sekere areas se toevoer moet daarom soms toegedraai word, om seker te maak dat genoeg water in die reservoirs inkom.
“Dit is ‘n proses en dit gaan dalk nog ‘n paar weke neem om die hele stelsel te stabiliseer,” sê hy. “Ons vra die mense moet geduldig wees en verstaan dit gaan nie oornag heeltemal reg wees nie.”


×