100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Andrea Bocelli bring ʼn wonderlike boodskap van hoop

Written by on April 13, 2020

Op Sondagaand 12 April het miljoene mense wêreldwyd gekyk na die Music for Hope-konsert wat gratis op Andrea Bocelli se YouTube-kanaal gestroom kon word. Die Londense Daily Mail berig dat nagenoeg 3.4 miljoen mense diep aangeraak is terwyl hulle hierna gekyk het. Die 61-jarige Italiaanse operasanger wat sedert sy 12de lewensjaar blind is, was in ʼn deftige aandpak geklee. Hy het sy musiek vanuit die Milaanse Dom, of die Duomo di Milano gebring en is begelei deur die orrelis van hierdie glorieryke katedraal, Emanuele Vianelli. Alhoewel hierdie katedraal tans gesluit is in die lig van die inperking van beweging wat ook in Italië geld, is daar spesiale toestemming aan Bocelli verleen om hier sy boodskap van hoop deur musiek aan die wêreld te bring. Italië is besonder swaar deur die koronavirus getref. Meer as 19 000 Italianers het aan die koronavirussiekte gesterf en meer as 150 000 is daarmee geïnfekteer.

Die konsert het met Bocelli se stem begin wat die volgende boodskap oorgedra het, terwyl beelde van Milaan en ander plekke in Italië die skerm gevul het: “Op Paassondag vier ons die geloof in lewe wat triomfeer. Dit is vir my ʼn eer en ʼn vreugde om ja te kon sê op die uitnodiging van Milaan en die Duomo om hier op te tree. Ek glo in die krag van gebed. Ek glo in die Christelkie Paasfees wat ʼn universele simbool van hergeboorte is. In hierdie tyd het almal dit nodig, of hulle gelowiges is of nie. Ek is dankbaar vir musiek wat op hierdie manier gedeel kan word oor die Internet sodat miljoene mense regoor die wêreld saam kan hande vat. Ons sal die aarde wat tans gewond is se polsende hart omhels en op hierdie manier gee ons ook gestalte aan Italiaanse trots.

Die groothartige, brawe en proaktiewe Milaan en die hele Italië sal baie gou weer ʼn beeld van oorwinning wees, die werktuig van die herlewing waarop ons almal hoop. Dit sal ’n vreugde wees om dit te aanskou, in die Duomo, tydens die Paasfeesviering wat die misterie van geboorte en hergeboorte oproep.” Bocelli het die pragtige “Panis Angelicus” van Cesar Frank, Charles-François Gounod se “Ave Maria”, “Sancta Maria” uit Cavalleria rusticana, en Rossini se “Domine Deus” in die verlate katedraal net met orrelbegeleiding gesing. Daarna het Bocelli na die binnehof van die katedraal geloop en met die pragtige fassade van die katedraal as agtergrond sy finale lied begin sing: die wonderskone “Amazing Grace”.

Die eerste gedeelte van die welbekende loflied het hy a cappella aangepak en sy wonderlike stem het in die leë binnehof geëggo. Terwyl die orrelmusiek begin het, is videobeelde van welbekende toeristebestemmings gewys wat nou, midde in die koronaviruskrisis verlate is. Plekke soos die Eiffeltoring, Londen se Trafalgar-plein en Times Square in Londen is onder meer vertoon.
Na afloop van die konsert het talle mense Bocelli geloof vir hierdie wonderlike aanbieding. Dit was aangrypend om die meester voor die leë katedraal te hoor sing. Voorwaar ʼn boodskap van hoop wat op die maat van musiek na die hele wêreld gestuur is.
Om die volledige konsert te sien, kliek op die skakel: https://www.youtube.com/watch?v=huTUOek4LgU


×