100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Achterberg kampioen by Barberton valskermsweef

Written by on May 3, 2021

Die nasionale valskermsweef-kampioenskap het Saterdag in Barberton tot ‘n einde geloop.
Hierdie weeklange kompetisie vind elke tweede jaar in Barberton plaas.
Anton Naudé, een van die organiseerders, verduidelik dat dit gewoonlik in die winter plaasvind, maar dit is vanjaar vervroeg om die legendariese valskermswewer Andrew Smith te vereer. Hy is die afgelope jaar dood, en sou verjaar het verlede Sondag, die dag wat die kompetisie afgeskop het.
Die laaste twee dae se weer was nie wonderlik nie, en op die derde laaste dag was twee genoodsaak om op ‘n pad te land. Verder het alles sonder voorval verloop.
Russell Achterberg is na die week as kampioen in die ope-afdeling gekroon. Naudé was tweede en Stephane Schurink het die derde plek op die podium beklee. Khobu Jane Bowden het die vroue-afdeling gewen.
Volgens Naudé het die plaaslike valskermswewers goed gevaar teen die oorsese deelnemers. Daar was twee van Brittanje, een elk van Italië, die VSA en Kanada en ‘n vrou van Brasilië.
Die Suid-Afrikaners kon punte verdien om moontlik later vir die nasionale span gekies te word wat die land by die wêreldbyeenkoms in Argentinië sal verteenwoordig in November.
Naudé sê dit is egter onseker presies hoe verdere kwalifisering en deelname aan die wêreldbyeenkoms gaan werk met die Covid-19-pandemie.
Hy voeg by dat daar verlede jaar glad nie kompetisies aangebied is nie, en dat dit gewys het onder van die deelnemers.
“Jy moet gereeld, ten minste een keer ‘n maand, vlieg om in oefening te bly,” sê hy.
Die volledige uitslae van die week is beskikbaar hier. 


×