{"id":6810,"date":"2020-04-30T11:43:32","date_gmt":"2020-04-30T09:43:32","guid":{"rendered":"http:\/\/www.radiolaeveld.co.za\/?p=6810"},"modified":"2020-04-30T11:43:32","modified_gmt":"2020-04-30T09:43:32","slug":"n-nuwe-liedjie-uit-die-pen-van-henry-john-williams","status":"publish","type":"post","link":"http:\/\/www.radiolaeveld.co.za\/n-nuwe-liedjie-uit-die-pen-van-henry-john-williams\/","title":{"rendered":"\u0149 Nuwe liedjie uit die pen van Henry-John Williams"},"content":{"rendered":"

Geen staat van inperking kan \u0149 ware kreatiewe siel keer om skeppend te wees nie. So het die Laeveldse musikant en binnenshuise ontwerper, Henry-John Williams, so pas weer bewys. Radio Laeveld-luisteraars ken vir Henry-John goed vir sy program wat hy op \u0149 Woensdagoggend aanbied, Dekor 101. In hierdie program deel hy wonderlike wenke met luisteraars oor allerlei kreatiewe idees vir jou huis.<\/p>\n

Vir die duur van die inperking is Henry-John saam met sy sussie Anastia Klingenberg op haar skoonfamilie se erfplaas naby Paulpietersburg. Die ou plaashuis met sy houtvloere en ruim vertrekke is al 101 jaar in hierdie familie se besit. Gedurende die grendeltyd het Henry-John \u0149 liedjie, \u201c21-dae\u201d geskryf wat oor hierdie vreemde tydperk in ons lewens handel. Hy het \u0149 paar dae gelede sy nuutste skepping op sy YouTube-kanaal gelaai. Hierdie liedjie, \u201c1000 foto\u2019s\u201d is \u0149 pragtige liefdesliedjie oor \u0149 verlore liefde. Hy vertel dat hy eintlik al aan die einde van 2018 hierdie liedjie begin skryf het. Hy het eendag by sy vleuelklavier in sy woonstel gesit, en afgekyk in die gang. Henry-John is \u0149 groot kunsversamelaar en tussen al die skilderye in die gang, hang daar ook foto\u2019s en skielik het die woorde: \u201c\u0149 Duisend foto\u2019s van ons in die gang\u2026\u201d by hom opgedaag.<\/p>\n

Die liedjie gaan oor \u0149 verlore liefde en verlore drome wat in die wind weggewaai word. Vir die tydperk van inperking het hy sy tuisstudio en sy elektroniese klavier saamgeneem plaas toe en in hierdie tyd het hy die liedjie voltooi. \u201cDie groot uitdaging was nou om die video te kon maak met bloot dit wat ek tot my beskikking gehad het op die plaas,\u201d vertel hy. \u201cOns het alles uit Anastia se kunsateljee gedra en \u0149 bed daar ingedra. Ek het foto\u2019s uit tydskrifte gesny en teen die mure geplak. Ons het sommer die kamera op \u0149 babastootwaentjie gemonteer om die effek van beweging te gee in die video. My sussie het haar mooi stem ook plek-plek bygevoeg.<\/p>\n

Ek dink die boodskap van die liedjie, dat jy vir \u0149 tydperk in jou lewe net so stoksielalleen gaan wees, kom sterk in die video deur en ek is so dankbaar dat ek dit uiteindelik die lig kon laat sien,\u201d s\u00ea hy. Op sy Facebookblad deel Henry-John ook elke dag foto\u2019s van die pragtige omgewing waarin hy hom tans bevind. Die plaas l\u00ea op die grens van Noordoos-Natal en Mpumalanga, aan die Pongola-rivier. In \u0149 moeilike tydperk in sy lewe het sy terapeut aan hom die raad gegee om elke dag na die mooi in die lewe te soek. Sedertdien stap hy nie by iets mooi verby sonder om dit af te neem nie.<\/p>\n

Die foto\u2019s wat hy so deel saam met \u0149 kort beskrywing beteken geweldig baie vir mense in hierdie donker tydperk. Dis wonderlik dat kunstenaars soos Henry-John hulle talente so mildelik uitdeel.<\/p>\n