100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Luister: Waarskuwing oor uitbreek van masels in die Laeveld

Written by on November 16, 2022

Die Mpumalanga gesondheidsdepartement is op hoë gereedheid na drie gevalle van masels in Ehlanzeni-distrik bevestig is.

Volgens die departement is die gevalle tussen 1 en 10 November onder drie kinders van tussen 18 maande en ses jaar oud in Lydenburg en Bosbokrand aangemeld.

Mandla Zwane, direkteur van oordraagbare siektes in die departement, gesels met Ludi en Mireille. Luister weer hier.

Reaksiespanne is geaktiveer en die mense wat in kontak was met die kinders word gemonitor en getoets.

Die gevalle is in ‘n laboratorium bevestig na roetine ondersoeke en die departement meld dat twee aangrensende distrikte (Sekhukhune en Mopani) in Limpopo ‘n uitbraak ervaar. Teen 10 November is 35 mense tussen die ouderdomme van ses maande en 42 jaar oud hier gediagnoseer.

Volgens die nasionale instituut vir oordraagbare siektes kom dit veral voor onder kinders tussen vyf en nege jaar oud in die Mopani-distrik. Twee kinders is gehospitaliseer maar geen sterftes of ander komplikasies is aangemeld nie.

In Mpumalanga was die eerste geval ‘n 18 maande oue seuntjie in Lydenburg, gevolg deur ‘n driejarige seuntjie in Bosbokrand (op 8 November) en ‘n sesjarige in Bosbokrand. In totaal is 23 kontakte vir die eerste twee gevalle geïdentifiseer waarvan 13 mense simptome gehad het, maar hul toetse was negatief vir die siekte. Die laaste geval word nog ondersoek.

Dit is hoogs aansteeklik en enige persoon wat nie daarteen ingeënt is nie, kan dit opdoen. Die LUR vir gesondheid in Mpumalanga, Sasekani Manzini, moedig ouers aan om te verseker hul kinders is teen masels ingeënt.

Dit word op ses en 12 maande toegedien (twee dosisse is nodig), en ‘n dosis van die masels inenting is beskikbaar by alle gesondheidsfasiliteite vir kinders wat dit gemis het.

“Dit is nooit te laat om teen masels ingeënt te word nie,” sê sy.

Simptome sluit in koors, hoes, loopneus, ongemak, konjunktivitis (alombekend as pienkoog), sowel as ‘n veluitslag.


×