100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vermiste meisie na groot soektog gevind

Written by on April 12, 2021

Die 19-jarige Selanna Biggs is gistermiddag gevind, na sy Saterdag as vermis aangemeld is. Sy was in ‘n motorongeluk op die Kaapsehoop-pad.
‘n Groot soektog na haar is van stapel gestuur. Volgens haar ma, Melisa, was sy vir meer as 27 uur in die wrak vasgekeer waar dit onder in ‘n plantasie van die pad af beland het.

Selanna is na Nelspruit Mediclinic geneem vir behandeling. Sy het haar femur gebreek en ‘n harde stamp teen haar kop opgedoen.
Sy is laaste Saterdag tussen 13:30 en 14:00 by die huis gesien deur haar ouers. Later was net haar kar en selfoon saam met haar weg.
Albert Gryvenstein van Bossies Community Justice vertel hoe hulle haar uiteindelik opgespoor het.

“Ek het Saterdagaand so 21:00 die oproep gekry en deur die aand gewerk.”
Hulle het haar foon probeer opspoor en kameras op paaie nagegaan om te bepaal in watter rigting sy is.
“Ons ondersoek vooraf het bepaal dat sy nie op die R40 in Witrivier se rigting is nie. So dit was Barberton, Malalane of Kaapsehoop se rigting. Ek het gedink Kaapsehoop is die waarskynlikste en ek het daarop gekonsentreer,” sê Gryvenstein.

“Ek was op ‘n stadium te voet, in ‘n bakkie, op ‘n motorfiets en in die helikopter (wat Chriso Smit beskikbaar gestel het). Ons het alles ingespan wat ons kon.”
John Meintjies van ACS Sekuriteit en Nelspruit Concerned Citizens het die soekgeselskap gekoördineer. Mense selfs van Hazyview het saam kom soek.
Laat Sondagmiddag het ‘n werker in die omgewing toevallig van die mense gesien en hulle vertel van die kar wat onder in die plantasie in die bosse is, waar dit sowat drie kilometer voor Kaapsehoop van die pad af is.
Orru, die brandweer, ‘n polisievliegtuig het ook gehelp. Sy is per nooddiens helikopter hospitaal toe geneem.
Melisa het almal bedank wat help soek het na haar dogter.

“Dit is ongelooflik hoe baie die gemeenskap omgee. Sy sou nie nog ‘n aand daar oorleef het nie,” het ‘n emosionele Melisa gesê.


×