100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Valke slaan toe op Nkomazi-munisipaliteit weens beweerde Covid-19-bedrog

Written by on July 31, 2020

Die Valke in Mpumalanga het Donderdag ‘n deursoek- en beslagleggingsoperasie op Nkomazi-munisipaliteit uitgevoer weens bewerings van bedrog en korrupsie.
Die ondersoek het te make met verkrygingskontrakte om die Covid-19-pandemie te beveg.
Verskeie kontrakteurs en diensverskaffers is glo in teenstryd met regulasies aangestel.
Woordvoerder vir die Valke, brig. Hangwani Mulaudzi, sê ongeveer R27 miljoen is ter sprake.
Die operasie is in samewerking met die Valke se digitale forensiese laboratorium en die plaaslike polisie se rekordsentrum uitgevoer.
Daar is op verskeie dokumente en ander materiaal in verskeie munisipale kantore beslag gelê.
Niemand is in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.
Volgens Mulaudzi sal die saak, na afloop van hul ondersoek, na die openbare vervolgingsgesag verwys word vir ‘n besluit.

President Cyril Ramaphosa het reeds hard gekap na korrupsie verwant aan die Covid-19-pandemie.
Hy het die spesiale ondersoekeenheid (SOE) magte gegee om enige staatsinstelling te ondersoek waar bewerings van korrupsie verwant aan die pandemie, bestaan.
Dit kom na bewerings van bedrog by die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF), die oorprysing van goedere, die oortreding van noodverkryging regulasies, en beweerde sameswering tussen amptenare.
“Die gevolge vir diegene wat die wet oortree of regulasies omseil, sal ernstig wees,” het hy gewaarsku.
Die regering het ook ‘n sentrum vir die koördinering van ondersoeke gestig vir verskillende wetstoepassingsagentskappe om saam met mekaar te werk.
Dit sluit in die Finansiële Intelligensiesentrum (FIS), die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), die vervolgingsgesag, Valke, misdaadintelligensie, SAPD speurders, die SA Inkomstediens (SAID), die SOE en Staatveiligheidsagentskap (SSA).


×