100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Toename in feestyd padsterftes

Written by on January 26, 2024

Meer mense het vanjaar tydens die feestyd hul lewens op Mpumalanga se paaie verloor as in dieselfde tydperk verlede jaar.

Die LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Vusi Shongwe, beskryf dit as kommerwekkend.

Ses meer ongelukke is aangeteken, en elf meer sterftes: Dit het toegeneem van 158 tot 169.

Veel meer mense is ernstig beseer met 609 in die afgelope feestyd teenoor 484 in dieselfde tydperk die jaar tevore.

Volgens Shongwe is die oorsaak van die meeste ongelukke die verloor van beheer en die gevaarlike verbysteek van ander voertuie.

Sien ook: Sonop gaan Bos met junior Ereveldwagters

Veertig voetgangers is ook op die paaie in die provinsie dood – vier minder as die vorige jaar.

Volgens die departement het hulle as deel van hul Veiliger Feestyd-operasies sowat 193 678 voertuie nagegaan met meer as 31 000 boetes wat uitgereik is vir verskeie oortredings van die padreëls.

In totaal is 11 419 boetes uitgereik vir spoedoortredings, 998 voertuie is geskut en 535 is as onpadwaardig verklaar.

Niks minder as 298 motoriste is ook gearresteer. Van hulle was 103 onder die invloed van drank en 38 het so vinnig gejaag dat hulle in hegtenis geneem is.

Shongwe sê die statistieke dui aan dat meer gedoen moet word om motoriste op die voed oor padveiligheid en die belangrike rol wat bestuurders se gedrag daarin speel.

“Ons waardeer diegene wat die padreëls gehoorsaam, want die situasie kon veel erger gewees het,” sê hy.

Foto: Drie mense is dood in ‘n ongeluk op 1 Januarie toe die bakkie waarin hulle gery het omgeslaan het op die N12 naby Delmas.


×