100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Soektog geloods na vrou in kar doodgeskiet is

Written by on September 10, 2021

Die polisie het ‘n mannejag geloods na die verdagtes wat ‘n 39-jarige vrou Dinsdag in Pienaar doodgeskiet het.
Volgens kol. Donald Mdhluli was die vrou alleen in haar voertuig toe dit om ongeveer 11:45 deur ‘n wit Mercedes Benz voorgekeer is. Twee gewapende aanvallers het uitgeklim en haar geskiet.
Hulle het glo ook kontant uit die voertuig gesteel en daarmee op die vlug geslaan. Die vrou is op die toneel deur noodwerkers dood verklaar.
Niemand is nog in verband met die voorval aangekeer nie. Enigiemand met inligting is gevra om kapt. Vusi Thobela te kontak by 082-469-1956.
Die provinsiale polisiekommissaris, luit. gen. Semakaleng Manamela, het die voorval ten sterkste veroordeel.
‘n 67-jarige man is in die vroeë oggend-ure van Donderdag in Tonga aangekeer met ‘n AK-47 en ammunisie in sy besit.
Volgens die polisie het die Pienaar taktiese eenheid saam met lede van die Witrivier honde-eenheid intelligensie ontvang oor ‘n verdagte man met ‘n verbode aanvalsgeweer.
Hy is aangekla van die besit van ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie.
Borgtog is gister in die Nkomazi-landdroshof in Tonga aan hom toegestaan en die saak is tot 14 Oktober uitgestel.
Die polisie in Lydenburg het ‘n soektog geloods na verdagtes wat Dinsdagaand ‘n kitsbank in die dorp opgeblaas het.
Volgens Mdhluli het die voorval om ongeveer 23:30 plaasgevind.
Volgens hul inligting het twee gewapende verdagtes die kitsbank oopgeblaas en ‘n onbekende hoeveelheid kontant gesteel. Niemand is nog in hierdie verband aangekeer nie.
Enigiemand met inligting is gevra om dit met die polisie te deel by 08600-10111. Alle inligting sal as vertroulik hanteer word.


×