100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Sakekamer sê nuwe reëls is absurd

Written by on July 13, 2020

Die Kruger-Laeveld sakekamer het president Cyril Ramaphosa se jongste inperkingsregulasies skerp veroordeel.
Die nuwe reëls vir vlak 3 van inperking is Sondag aangekondig. Dit is dieselfde dag in die staatskoerant gepubliseer.
Daarvolgens word reis vir ontspanning en alkoholverkope beperk.
Oupa Pilane, president van die Kruger-Laeveld sakekamer, sê dit is die finale spyker in toerisme se kis.

“Dit is absurd. Ouers moet by die huis bly en nie werk nie, maar kinders moet skool toe gaan om die verspreiding van die virus se beperk. Daar is geen logika in nie.”
Premier Refilwe Mtshweni-Tsipane het tydens Ramaphosa se besoek aan die provinsie verlede Vrydag, ‘n strategie vir Mpumalanga se ekonomiese herstel aangekondig.
Dit fokus op landbou, grootskaalse vervaardiging en mynbou.
Pilane sê dit is onsin omdat toerisme van kardinale belang vir die Laeveld en land se ekonomie is.
“Dit is die grootste verdiener van buitelandse valuta en die grootste werkgewer in die land.”
“Dit is die probleem wanneer jy mense in magsposisies het wat geen idee het hoe die ekonomie werk nie,” voeg hy by.
“Daar was reeds nie genoeg besoekers vir toerismefasiliteite om kop bo water te hou nie. Nou plaas jy meer beperkings op hulle. Jy sê basies hulle moet toemaak.”
Volgens Pilane is die regering se hulp aan die bedryf ook ‘n grap: Die Covid-19-hulpfonds het net sekere klein rolspelers gehelp, die werkloosheidsversekeringsfonds se betalings het einde Junie gestop en munisipaliteite verlang steeds hul tariewe.
Taki Mamatsharaga, direkteur van die Laeveld botaniese tuin, beaam dat die afgelope maande se inperking hulle onder baie druk geplaas het.
Volgens die nuwe regulasies word sekere aktiwiteite, soos vendusies en oefen in openbare parke, nou weer toegelaat.
Tog sê Mamatsharaga dat hy nie dink die oopmaak van parke is op die tuin van toepassing nie. Hulle bly dus steeds toe.
“Ons het hulle vroeër gevra of ons dit mag oopmaak sodat mense in die tuin kan stap en joga doen, maar dit het op dowe ore geval,” sê Mamatsharaga.
“Ons het gedink ons omgewing is veilig, solank ons nie sosiale byeenkomste hou nie, maar hulle het dit afgekeur.“
Restaurante is ook weer in ‘n penarie.
Die Restaurantvereniging van Suid-Afrika (Rasa) het baie druk op die departement van toerisme uitgeoefen om hulle weer toe te laat om klante te ontvang. Volgende in hul visier was om die gebruik van alkohol op hul persele te wettig.
Hulle het aangedui hulle win reeds regsadvies in oor die jongste verwikkelinge.
Pilane het ‘n beroep gedoen op alle rolspelers wat by toerisme betrokke is, om te mobiliseer en op te staan vir hul reg om ‘n bestaan te maak.


×