100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Rugby begin weer in September

Written by on August 7, 2020

Die Phakisa Pumas mag weer rugbywedstryde speel.
Dit is volgens die nuwe inperkingsregulasies wat Donderdag deur die departement van sport gepubliseer is.
Die agt franchise-spanne kon ‘n paar weke gelede nie-kontak-oefeninge hervat.
Volgens SA Rugby se uitvoerende hoof, Jurie Roux, benodig die spanne ‘n paar weke om vir wedstryde voor te berei.
“Ons hoop om teen vroeg tot middel September ons eerste wedstryde te kan speel. Ons planne vir die struktuur van die kompetisie sal later aangekondig word, aangesien ons verskeie opsies oorweeg,” het hy in ‘n verklaring gesê.
Buiten die Pumas sluit dit die Vodacom Bulls, Emirates Lions, Cell C Sharks, DHL Stormers, Toyota Cheetahs, Southern Kings en Tafel Lager Griquas in.
Die Pumas het in September verlede jaar laas rugby gespeel.
Wedstryde moet egter onder streng veiligheidsmaatreëls geskied.
Die regulasies stipuleer dat slegs noodsaaklike personeel wedstryde mag bywoon.
Toeskouers word dus nie toegelaat nie.
Die Pumas se Marius van Rensburg sê dit is verstaanbaar dat mense se veiligheid eerste moet kom. Hulle sien daarna uit om weer te speel.

Hy voeg by dat dit vir hulle belangrik is om hierdie jaar nog rugby te speel.
“Ons inkomste hang daarvan af, op die einde van die dag.”
Die grendelstaat was vir die spelers frustrerend, aangesien hulle afsonderlik en sonder toegang tot gimnasiums, fiks moes bly.
Sedert oefening in spanverband kon hervat voel hulle egter weer soos ‘n span.
“Ons almal het mekaar gemis,” sê Van Rensburg. “En rugby bly ‘n spansport.”


×