100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Private sektor doen beroep op regering om in te gryp by MTPA-staking

Written by on April 9, 2021

Georganiseerde toerisme in Mpumalanga het ‘n beroep gedoen op die provinsiale regering om ‘n einde te bring aan die voortslepende, onwettige staking deur werknemers van die agentskap vir toerisme en parke in Mpumalanga (MTPA).
Die 14 reservate wat deur die MTPA bestuur word, is al sedert Dinsdag gesluit vir die publiek. Net die watervalle wat deur Safcol bestuur word, word nie deur die staking geaffekteer nie.
Oupa Pilane, wat die Kruger-Laeveld-sakekamer (KLCBT) en Satsa Mpumalanga verteenwoordig, sê toerisme kan dit nie bekostig nie, omdat die bedryf reeds op sy knieë is weens internasionale inperking.
Die LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Vusi Mkhatshwa, sou Donderdag reeds met die leiers van Nehawu vergader, maar dit is uitgestel na vandag, het sy kantoor se woordvoerder, Mohau Ramodibe, bevestig.
Die stakende werknemers eis onder meer dat werknemers in waarnemende bestuursposte permanent aangestel word. Hulle wil ook hê dat die senior bestuursposte wat onlangs geadverteer is, nie gevul word nie tot die waarnemende mense geplaas is nie.
Die MTPA se woordvoerder, Kholofelo Nkambule, sê die Nehawu-leierskap weier om met MTPA-bestuur te vergader om ‘n oplossing te probeer vind.
Pilane sê die regering moet ingryp.

Hy sê die vooruitsigte vir die bedryf bly onseker omdat hulle steeds weens Covid-19-inperkings wêreldwyd sukkel.
“Soos die land in die winter in beweeg, is dit duidelik dat vele toerisme-verwante individue en ondernemings nie die somer goed genoeg gevaar het om die afseisoen te oorleef nie.
“Die toerismesektor is op sy knieë en ons benodig elkeen om saam te werk om die duisende werksgeleenthede wat op die spel is, te red. Herstel van die bekostig om deur ‘n onwettige staking onderbreek te word nie.”
Hy noem dit ekonomiese sabotasie.
“Ons verwag van die MTPA-bestuur om alle wettige prosesse te volg om die staking tot ‘n einde te bring en dadelik alle aantreklikhede te heropen.”
Pilane voeg by dat toeriste-aantreklikhede wat nie onder die MTPA se bestuur is nie, wel oop is vir sake, en besoekers moet daarom nie hul reise kanselleer nie.


×