100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Phakisa Pumas positief oor komende Curriebeker

Written by on September 28, 2020

Die Phakisa Pumas se wen oor die Vodacom Blue Bulls met 50 teenoor 38 punte tydens hul oefenwedstryd Saterdag by Mbombela-stadion was nie alles wat hoofbreier, Jimmy Stonehouse, wou gehad het nie.
Hy sê die span het nie goed gespeel nie, maar voeg by dat dit nie die beste Pumas-span wat hy tot sy beskikking gehad het, was nie.
Op hierdie stadium van hul voorbereiding vir die Curriebeker fokus die Pumas op hul spansamestelling.
“Ek dink nie ons het goed gespeel nie, maar ons het nie ons beste span saamgesit nie om kombinasies uit te sorteer. Ek is bly ons het ‘n wen daaruit gekry.”
Hulle speel Vrydag nog ‘n oefenwedstryd teen die Lions by Emirates Airline Park, voor die jaar se kompeterende rugby op 9 Oktober afskop.

Vir Stonehouse is Vrydag se wedstryd van groot belang.
“Ons sal hierdie naweek baie nader kom aan die eintlike span want ons speel teen die Leeus Vrydag. Hulle het ‘n paar ouens wat sal uit wees om Bok-proewe te speel so dit sal seker die naaste span wees as waarteen ons (in kompetisie) gaan speel.
“Dan sal ons ‘n beter aanduiding hê van waar ons staan en hoe ons lyk.”
Vanjaar se plaaslike rugbykompetisie is tweedelig.
SA Rugby het Maandagmiddag aangekondig dat die eerste toernooi, Vodacom Super Rugby Unlocked, op 9 Oktober afskop met die vier bestaande Superrugby-spanne (die Vodacom Bulls, Emirates Lions, Cell C Sharks en DHL Stormers) asook die Toyota Cheetahs, Tafel Lager Griquas en Pumas.
Al 21 wedstryde sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.
Dit skop om 19:00 Vrydag 9 Oktober af met ‘n wedstryd tussen die Sharks en Lions in Durban.
Die Pumas is die Saterdag, 10 Oktober, in hul eerste kragmeting van die kompetisie, teen die Cheetahs in Bloemfontein om 16:30.
Geen toeskouers word steeds onder vlak 1 van inperking by westryde toegelaat nie.
Vodacom Super Rugby Unlocked eindig die naweek van die 20ste November.
Die Pumas se finale wedstryd is teen die Bulls die Vrydagaand om 19:00 in Pretoria.
Die span bo-aan die punteleer sal as kampioene gekroon word, waarna die Curriebeker aan die einde van November volg, met semifinale en ‘n finaal in Januarie.
Stonehouse sê hulle sien ongelooflik uit na die seisoen, veral met al die Springbok-spelers wat vanjaar deel van die kompetisie is.
“Jy kan jouself teen hulle meet en dan is ‘n dubbel-ronde Curriebeker baie goed vir ons borge.
“Die spelers kan hulself ook bewys. Jy kan jouself op net een plek bewys en dit is die Curriebeker.
“Ek dink ons span lyk goed. Ons het so hier en daar ‘n besering, maar as ons, ons diepte kan beskerm dink ek ons kan goed doen in die Curriebeker,” sê hy.


×