100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Pediatric Care Africa tevrede met motorfietsrit vir operasies

Written by on September 28, 2020

Pediatric Care Africa is baie tevrede met hul fondsinsamelings-rit van die afgelope naweek.
Dit was om geld in te samel vir minder bevoorregte kinders wat operasies benodig.
Volgens Pediatric Care Africa se stigter, dr. André Hattingh, beloop dit ‘n minimum van R59 000 om een operasie uit te voer, en dit is sonder addisionele kostes soos hospitalisasie en alles wat daarmee gepaard gaan.
Hy het vanaf Donderdag tot Sondag verskeie groot dorpe in Gauteng en Mpumalanga per motorfiets besoek en so net meer as 1 000 kilometer afgelê.
Hulle moet nog bevestig presies hoeveel fondse hulle daardeur kon insamel. Borge is genooi om R1, of R2 of R5 te skenk vir elke kilometer wat hy gery het.
Mense kan ook kontantskenkings maak en via die SMS-lyn fondse bydrae.
Verskeie ander motorfietsryers het by Hattingh aangesluit in verskillende dorpe. Hulle was op ‘n stadium sowat 43 fietse.
Hulle het by Mashishing (Lydenburg), Middelburg, Dullstroom, Hartbeespoortdam, Pretoria, Magaliesburg, Krugersdorp, Randfontein en Alberton aangedoen.

“Dit was nie ‘n lang rit nie, maar dit was besig,” sê hy.
Hulle het Sondagmiddag veilig terug in Witrivier gearriveer.
Volgens Hattingh het Pediatric Care Africa tydens inperking al hul beskikbare fondse gebruik om kospakkies aan minder bevoorregte gesinne in Mpumalanga te voorsien.
Boonop kon hulle sedert die grendeltydperk ingestel is, geen operasies uitvoer nie. Hul uiteindelike mikpunt is ‘n duisend operasies vir ‘n duisend kinders.
“Ons het einde verlede jaar, toe ons hiermee begin het, 20 operasies gedoen. Sedert inperking het ons niks gedoen nie. Ons moet ten minste ses operasies doen voor die einde van die jaar,” voeg hy by.
Om betrokke te raak, kontak Pediatric Care Africa by [email protected].


×