100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Opdatering: Twee addisionele verdagtes verskyn vir moord op Duitse toeris

Written by on November 21, 2022

Twee* addisionele verdagtes het vandag in die Kabokweni-hof verskyn vir die moord, in Oktober, op Jörg Schnarr, ‘n Duitse toeris. Hy is op 3 Oktober tydens ‘n mislukte kaping op die Numbi-pad onderweg na die Krugerwildtuin doodgeskiet.

Die saak teen Cebo Marshall Mamba (38) en Bongimusa Fortune Lebo Matsane (25) is uitgestel tot 28 November en hulle bly in aanhouding. Napoleon Joseph Nyalunga is reeds aangekeer en verskyn weer in Januarie in die hof.

*Die polisie het aanvanklik aangedui dat drie addisionele verdagtes aangekeer is. Sien storie hieronder.

=============

21 November, 11:35

Nog drie verdagtes is aangekeer i.v.m. die moord verlede maand op ‘n Duitse toeris op die Numbi-pad onderweg na die Krugerwildtuin. Die 67-jarige Jörg Schnarr is op 3 Oktober tydens ‘n mislukte kaping doodgeskiet.

Napoleon Joseph Nyalunga het reeds weens die moord verskyn. Hy staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en poging tot kaping.

Lees meer: Verdagte aangekeer vir moord op Duitse toeris

Volgens polisiewoordvoerder, brig. Selvy Mohlala, is nog drie mans Woensdag en Donderdag tydens ‘n intelligensie gedrewe operasie in onderskeidelik Mbombela, Badplaas en Elukwatini aangekeer.

Hulle is almal tussen die ouderdomme van 25 en 38 jaar oud en behoort binnekort in die hof te verskyn.

Mohlala sê die provinsiale taakspan en Piet Retief se misdaadintelligensie en speurders het die een verdagte met ‘n silwergrys VW Polo by ‘n winkel in Mbombela aangekeer. Hy word glo met verskeie sakerowe in en om Piet Retief, Ermelo en Bethal verbind.

‘n Ander verdagte was na bewering in besit van ‘n wit Toyota Tazz wat na vermoede tydens die kaping gebruik is. Hy was glo ook in besit van ‘n vuurwapen sonder sy reeksnommer sowel as 11 rondes ammunisie en seinblokkeerders.

Al drie word verdink van verskeie huisbrake in die Gert Sibande-distrik. Die saak teen Nyalunga is tot 24 Januarie uitgestel.


×