100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

NKW: Ondersteuning maak vordering teen stroping moontlik

Written by on August 10, 2022

Die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) sê die ondersteuning wat hulle vanaf ondersteuningsinstansies soos Stop Poaching Endangered African Rhino (Spear) en die Ereveldwagters ontvang, maak hul vordering in die oorlog teen stroping moontlik.
Hoofveldwagter Cathy Dreyer het gepraat tydens ‘n spesiale toer in die wildtuin gister waartydens Spear en die South African Council for Business Women (SACBW) ‘n groep plaaslike vroue op Vrouedag bederf het.

Volgens Dreyer sou die 82 renosters wat vanjaar tot dusver in die NKW vir hul horings gestroop is, veel meer wees as dit nie vir hul oorlog teen stropery was nie – en dit word moontlik gemaak deur ondersteuning uit die private sektor omdat SANParke weens die Covid-19-pandemie en inperkings die afgelope twee jaar sowat 70% van hul operasionele begroting verloor het.
Hulle moet hul eie fondse genereer om byvoorbeeld renosters te kan onthoring.

“Ons moet ons eie fondse genereer, maar ons is bewaarders, nie bemarkers nie,” sê sy.
Hulle befonds hul program om renosters te onthoring deur gaste-ervarings waar mense betaal om so ‘n operasie mee te maak.
Dít is een van die wapens in hul aresenaal. Die wildtuin het die week ook weer nagvlugte per helikopter hervat en is besig om ‘n hommeltuigprogram op die been te bring.
Dreyer sê soms is hul eie werknemers betrokke, maar “daar is nog goeie mense, nie almal van ons is betrokke nie, nie almal is korrup nie”.
Terwyl die fokus in die Suide van die wildtuin op renosters is, is daar toenemende stroping in die Noorde waar olifante gestroop word vir hul tande, sowel as aasvoëls en leeus vergiftig word vir die oorsese mark en moetie.
Die fokus van Spear is op die area Suid van Skukuza waar hulle werk om gemeenskappe wat direk langs die wildtuin woon met bewaring in aanraking te bring sodat hulle en die wildtuin mekaar wederstyds kan ondersteun.
Stigter Jan Engelbrecht sê dit behels samewerking tussen die private sektor en die gemeenskap om die bewaringsinisitiewe in die wildtuin te ondersteun. Luister hier:

Direksielid Estelle Roe sê die voortbestaan van renosters is belangrik vir almal in die area omdat die “Groot Vier” ‘n verreikende negatiewe impak op toerisme (en werksgeleenthede) in die hele area sal hê, sou renosters uit die Kruger verdwyn.
Die toer het aangedoen by Johan de Beer, hoof van die SANParke honde-eenheid wat in die Krugerwildtuin gestasioneer is.
Hier demonstreer spanlede hoe ‘n hond ammunisie uitsnuffel.

Die dag is afgesluit met waarderingstoekennings aan Spear-ondersteuners.
“Dit maak nie saak hoe klein ‘n bydrae is nie, dit maak ‘n verskil,” sê Engelbrecht.


×