100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Nelspruit Relay for Life lyk vanjaar heel anders

Written by on February 8, 2022

Die Nelspruit Relay for Life (RFL) is vanjaar terug – en trek ‘n nuwe baadjie aan.
Na 15 jaar van deurnag stap, en twee jaar wat dit glad nie aangebied kon word nie, is die seremonie vanjaar heelwat korter.

Dit vind op 9 April plaas by Eagles View Play Park op die Uitkyk-pad, ‘n ideale gesinsomgewing.
Die oggend sal afskop met ‘n bergfietsry-fondsinsameling vir KANSA, met RFL die middag vanaf 15:00.
Riaan Loubser sê die stap gedeelte sal slegs sowat twee uur duur, en gevolg word deur die gebruiklike seremonies vir die oorlewendes, hul versorgers en almal wat weens die siekte oorlede is met die Luminaria-seremonie waar kerse vir hulle aangesteek word.

Ter viering van KANSA wat verlede jaar hul 90ste bestaansjaar gevier het, beloop deelname slegs R90 per persoon.
Jaco Potgieter, eienaar van Eagles View Play Park, sê hy het dadelik die perseel aangebied toe hy hoor KANSA Laeveld wil RFL vanjaar hervat.
Sy eie dogter is agt jaar gelede weens leukemia oorlede, en sou vandeesmaand 21 jaar oud geword het.

Hy is daarom ook entoesiasties oor ‘n nuwe tradisie wat vanjaar by die Nelspruit RFL ingestel sal word: die aanbring van bankies waarop geliefdes se name aangebring kan word in die natuurskone plek waar hulle onthou kan word.
Maria Scholtz van KANSA Laeveld sê hulle fokus vanjaar veral daarop om die gaping in toegang tot kankersorg en toetse te verklein.
Registrasie vir RFL maak eersdaags oop. Hou hierdie spasie dop vir meer.
Hulle vra dat alle oorlewendes van kanker hulle intussen kontak om deel te wees van die vieringe van hoop en herinnering.


×