100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Opdatering: Onwettige immigrante verskyn in Nelspruit-hof

Written by on March 1, 2023

Negentien mans wat Maandag in KaMagugu aangekeer is vir onwettige immigrasie verskyn vandag in die Nelspruit-landdroshof.

Volgens die Valke is 14 van Bangladesj en vyf van Pakistan. Hulle is tussen 23 en 40 jaar oud.

Hulle is Maandag tydens ‘n multidissiplinêre operasie aangetref in ‘n huis sonder meubels.

Hul “oppasser” wat ook van Bangladesj is, is in besit gevind van 18 paspoorte en 27 selfone.

Hy word aangekla van die huisves van onwettige immigrante.

“Die verdagtes, wat nie in Engels kan kommunikeer nie, het paspoorte wat nie by Suid-Afrikaanse grensposte gestempel is nie,” sê die woordvoerder van die Valke, kapt. Dineo Sekgotodi.

Intussen het die VF Plus ‘n mosie by die provinsiale wetgewer ingedien wat die regering versoek om strategiese netwerke, samewerking en vennootskappe om mensehandel doeltreffend te bekamp, dringend in plek te stel.

Volgens die provinsiale leier, Werner Weber, moet die regering bewusmaking bring van die misdaad en die vele fasette waarin dit hom voordoen sowel as hoe die burgerlike samelewing ‘n rol kan speel om dit te bekamp.

In Junie is 39 mensehandelslagoffers (waaronder nege kinders onder die ouderdom van vyf jaar) van ‘n plaas in Belfast gered. Skaars ‘n maand later is ses ontvoerde Mosambiekse kinders op ‘n plaas naby Bethal gered.

Die provinsie is glo ‘n brandpunt vanweë sy nabyheid aan buurlande.

“Inwoners het bewustheid nodig en meer gesprekke moet op openbare platforms plaasvind,” sê Weber.

===============

28 Februarie, 11:01: Negentien mans van mensehandel gered in Kamagugu

Negentien burgers van Bangladesj is gister deur die polisie in Kamagugu van mensehandelaars gered.

Polisiewoordvoerder, brig. Selvy Mohlala, sê die Ehlanzeni intelligensie-taakspan het die deurbraak gemaak.

Die 19 mans was in ‘n drieslaapkamer huis en hul selfone is by hulle afgeneem.

‘n 52-jarige man, ook van Bangladesj, wat as die opsigter geïdentifiseer is, is gearresteer op aanklagte van mensehandel.

Die 19 slagoffers word aangekla van oortreding van die Wet op Immigrasie.

“Ons ondersoek duur voort na hul beplande eindbestemmings en die ringkoppe,” sê Mohlala. “Voorlopige aanduidings is dat hulle onderweg was na Middelburg en Johannesburg.”


×