100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

MTPA steeds op spoor van drie ontsnapte leeus

Written by on March 31, 2022

Hulle hou hulself skaars, maar daar is nog drie opgeskote leeus los in Marloth Park.
In Desember is vyf leeus in die reservaat opgemerk. Gerrie Camacho van die Mpumalanga Toerisme en Parke-agentskap (MTPA) sê die groot mannetjie het intussen sy intrek by Lionspruit geneem en die groot wyfie, die ma van die drie oorblywende jonges, is baie lanklaas in Marloth Park gesien.
Lees ook: Hoe gemaak as jy ‘n leeu raakloop
Die jong mannetjie en twee wyfies beweeg tussen Marloth Park, die rivieroewer en ‘n naburige plaas.

“Dit is normale leeu gedrag. Marloth Park is te klein vir hulle om heeltyd daar te probeer jag,” sê hy.
Camacho twyfel of hulle terug sal keer na die Krugerwildtuin, omdat daar baie kompetisie vir spasie is met ander leeus. Marloth Park is daarom vir hulle aanloklik, en kos is in oorvloed beskikbaar.
Die leeus se fokus was tot nou op volstruise. Tog begin hulle toenemend ander wild ook jag, “maar hulle het dit nog nie lekker onder die knie gekry nie”.

‘n Gevaar is dat hulle makliker prooi sal soek naby huise, waarheen wild gelok word deur mense wat hulle voer.
Die MTPA se strategie is om een van die leeus te vang en te merk om die ander twee te vind sodat almal geskuif kan word. ‘n Groot probleem is hoe ruig Marloth Park is. Hulle is ook meestal aan die beweeg wanneer hulle gesien word, en verdwyn weer vining. Verder verhoog die aantal mense en huise die risiko om een te pyl.
“Sodra ons dink ons ken hul patroon van beweging, verander dit. Ons wag vir ‘n gulde geleentheid om een gevang te kry.”
Moets en moenies: Camacho gee raad.
Moenie baie vroeg of laat rond of in die donker of sterk skemer rondbeweeg nie. Bly snags naby jou huis en in die lig.
Beweeg in groepe, wees waaksaam en slaan ag op waarskuwings oor waar leeus opgemerk is.
Sou jy ‘n leeu teëkom, staan stil, kyk vir die dier, en probeer aggressief voorkom.
“Die meeste aanvalle op mense gebeur in die aand, maar jy kan dit stimuleer.”
Moet daarom nie weghardloop nie, en maak geraas.
“Hulle is gewoond dat prooi weghardloop, so as jy stilstaan disoriënteer jy hulle.”
Met kinders is die gevaar veel groter.
“Hou die kinders in die middel van die groep. Moet hulle nie op jou skouer tel nie, die leeus sal steeds sien dit is ‘n kind en maklike prooi.
“Hulle bly wilde diere, hulle bly leeus, hulle bly onvoorspelbaar,” sluit Camacho af.
Sou jy een van die leeus gewaar, kontak die veldwagters (082-802-5894), gemeenskapspolisiëringforum (Nadine: 082-672-4545 en Camacho: 082-353-9097) of MTPA (April Lukhele: 082-807-1057 en Jan Koekemoer 063-053-7601).

Foto’s: Kobus Prinsloo.


×