100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Machadodorp-wisselaar op N4 amptelik geopen

Written by on September 3, 2021

Die nuwe Machadodorp-wisselaar op die N4 is gisteroggend amptelik geopen. Dit vervang die ander aansluitings na die N4 en maak die pad beduidend veiliger.
Die geleentheid is deur Mpumalanga se LUR vir openbare werke, Mohita Latchminarain, sowel as amptenare van Sanral en Emakhazeni-munisipaliteit se burgemeester, TD Ngwenya, bygewoon. Hulle het saam met TRAC se uitvoerende hoof, Alex van Niekerk, die geel lint geknip om die pad oop te stel.
Van Niekerk sê die groot toename in verkeersvolumes op dié pad het die opgradering genoodsaak.
Dit is veral belangrik omdat dit deel vorm van die Maputo-ontwikkelingsroete en daardeur ekonomiese groei ondersteun.

Die nuwe wisselaar vorm deel van die opgradering van die pad tussen Machadodorp en Emakhazeni, ‘n projek wat in 2019 afgeskop het. Dit sluit in die rehabilitasie van die bestaande pad en konstruksie van ‘n addisionele baan in beide rigtings oor die 30 km. Volgens Van Niekerk het dit sowat R400 miljoen gekos.
Dit bied ‘n veiliger ingangspunt na en van Machadodorp en die R36. Dit sal voortaan die enigste ingang na die dorp wees.

Hoewel die wisselaar ten volle in gebruik is, sal ander padwerke tussen Emakhazeni en Machadodorp vir nog ‘n paar maande duur. Dit sal na verwagting vroeg in 2022 afgehandel wees.
TRAC het die publiek en padgebruikers bedank vir hul samewerking en geduld tydens die konstruksieperiode.
“Hierdie opgradering, insluitende die manjifieke struktuur wat ons vandag geopen het, is ‘n bewys dat TRAC daartoe verbind is om die roete in ‘n uitstekende toestand te hou van wêreldgehalte,” het Van Niekerk afgesluit.


×